Local newsNews

‘Dit is jammer dat liters water vermors word voordat opgetree word’

Na maande se stilte oor die waterlekke, begin die Viljoenskroon Munisipaliteit uiteindelik eersdaags met herstelwerk

Sowat sewe maande nadat die Viljoenskroon-gemeenskap twee groot lekkasies op die hooftoevoerlyn vanaf die dorp se watersuiweringswerke na die reservoir opgemerk het en dit herhaaldelik, sonder enige sukses, by die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit aangemeld het, het AfriForum se Viljoenskroon-tak  toegesien dat daar eindelik aandag aan dié waterlekke gegee word. Die burgerregteorganisasie het namens die gemeenskap druk op die munisipaliteit toegepas om met herstelwerk te begin.

Inwoners van Viljoenskroon het op 18 Julie die lekkasies onder die plaaslike AfriForum-tak se aandag gebring nadat die munisipaliteit die afgelope paar maande versuim het om die probleem die hoof te bied. Die tak het die volgende dag ’n brief aan die munisipaliteit gestuur waarin versoek is dat die munisipaliteit binne sewe dae met herstelwerk begin. Die munisipaliteit het telefonies onderneem om op te tree en vandag (23 Julie) ’n skrywe aan die gemeenskap gestuur oor die beplande herstelwerk.

Luidens dié skrywe gaan daar Maandag (29 Julie) en Dinsdag (30 Julie) wateronderbrekings op die dorp wees sodat die nodige herstelwerk gedoen kan word.

“Dit is jammer dat etlike liters water eers vermors word voordat daar daadwerklik deur die munisipaliteit opgetree word. Die Viljoenskroon-tak is nogtans verheug dat die munisipaliteit binnekort met herstelwerk gaan begin,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier-streek.

Die gemeenskap word versoek om waterlekke dadelik by die munisipaliteit aan te meld en die Viljoenskroon-tak in kennis te stel indien die waterlekke nie herstel word nie. “Ons leef in ’n waterarm land, daarom mag skoon water nie vermors word nie,” sluit Pretorius af.

Die AfriForum-tak in Viljoenskroon sal die situasie fyn dophou en indien die munisipaliteit versuim om die herstelwerk te doen, sal AfriForum self ’n kontrakteur aanstel om die lekkasies te herstel. Die rekening hiervoor sal aan die munisipaliteit gestuur word om te vereffen.

Kontak Attie Barnard by 082 557 1428 of besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum se Viljoenskroon-tak betrokke te raak.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button