Doringhoutvure brand hoog vir ‘Kadoefie’ trooskos
Vlytige Vredeforters wys hoe hartskos uit toeka se dae gemaak is
Hemel op die platteland. Dít is wat jy sal ervaar by die Kos- en Kuiermark Saterdag, 3 Augustus, vanaf
09:00 by die Vredefort Klipkerk Gemeente. Van beesstert tot kerrie-afval, pap en kaiings, lamsbredie, snoek en patats, gebakte skaapkop, braaivleis, gebraaide gevlekte hoenders (flatties) en skaapstertjies – dit alles sal jy in die Boskombuis kry waar doringhoutvure hoog gaan brand.
Kom wys jou kinders hoe daar vroeër jare kos gemaak is wanneer jy die vlytige Vredeforters kan dophou waar hulle kos maak in ‘Black Harry’ en ‘Kadoefie’. Regte trooskos en hartskos soos ds. Haggard daarna verwys.

By die Kontreimark kan jy jou verlustig aan ‘n verskedenheid eetgoed, pragtige handgemaakte items (van boerseep en die fynste hekelwerk tot kolwyntjies).
Marléne Brüssow bied elke jaar die Kontreimark aan en mense stroom behoorlik na dié pragtige stalletjie. Bring ‘n lekker groot mandjie en leë houers saam sodat jy kan koop om huis toe te vat, want g’n mens kan al hierdie lekkernye in een oggend verorber nie! Jy kan kies en keur uit die spoggebak van Vredefort se baasbaksters: Pasteie, koeke, beskuit en koeksisters, om maar net ‘n paar op te noem.
Die Plaaswinkel beloof om baie besig te wees, want die spesiale aanbiedinge op plaasvleis, kan niemand weerstaan nie! Vleis is slegs by die basaar beskikbaar en kan nie vooraf bestel word nie.

Die Plaaswinkel bied vanjaar ook die gewilde “Wit olifant” tafel aan, waar jy altyd iets vind wat jy jare lank al soek, teen ‘n appel en ‘n ei.
Natuurlik sal al die tradisionele gunstelinge ook te koop wees: pannekoek, kerrie en rys, hamburgers, boeries en die kersie op die koek – basaarpoeding!
Jou kinders kan baljaar by die Kinderkraal waar ‘n verskeidenheid speletjies aangebied gaan word. Hulle kan ook “visvang”, teikenskiet en hulle moeg spring op die springkastele.
Manie Jackson gaan sorg vir ‘n feestelike atmosfeer wanneer hy van 11:00 af al sy goue treffers gaan sing.
Bring jou gesin en geniet ’n heerlike kuierdag oorlaai met lekkernye en gasvryheid uit die Vredefort-kontrei.



