News

Dié twee maak ‘n gedugte span by Patryshond Veldkompetisie

Pointers en Setters word gebruik weens hul uitstekende vermoë om veldtoestande te lees

Rabb kom speels nader. Afwagting in sy lenige lyf. Hy wil veld toe. Die besondere band tussen dié jong Pointer en sy eienaar, dr Johan Wessels van die Parys Dierehospitaal, kan jy nie miskyk nie. Die twee van hulle is ‘n gedugte span wat verlede week saam in die veld was vir die Natalse Patryshond veldkompetisie wat in die omgewing gehou is.

Dr Johan Wessels en sy spanmaat, Rabb. Hulle het die afgelope week aan die Natalse Patryshond Veldkompetisie deelgeneem.

Dit was ongelooflik om die 49 Pointers en Setters, en hul hanteerders vroegoggend te sien soos hulle die veld instap vir die dag se deelname.

Groot opgewondenheid vir die dag se veldwerk. Op die foto is van die Pointers en Setters wat die afgelope week aan die Natalse Patryshond Veldkompetisie in die Parys-omgewing deelgeneem het.

Die afgelope week se Derby kompetisie was die derde van vier kragmetings vir die jaar. Daarna volg die nasionale kragmeting in Augustus in die Kaapse Overberg-distrik waar honde wat eerste, tweede of derde plekke, of ‘n sertiikaat van meriete in die kwalifiserende kompetisies behaal het, hul slag in die veld sal wys.
Johan is die enigste Parysenaar wat aan dié natuurvriendelike sport deelneem waar mens en dier getoets word met die uitwys van wilde voëls sonder dat jag gemaak word op die voëls.

In hierdie distrik is dit die Kalahari patrys, die Rooikop fisant, kwartels en tarentale. In die Wes-Kaap is dit die Kaapse fisant, en in die Oos-Kaap en Natal die Grysvlerk en Rooivlerk Patrys en die Natalse fisant.

Pointers en Setters word gebruik weens hul uitstekende vermoë om veldtoestande te lees, en die reuk van die voëls op te tel deur wind of bewegende lug wanneer hulle in ‘n spesifieke patroon in die veld beweeg.
Sodra die hond die voël geruik het, beweeg hy versigtig tot so na as ‘n halfmeter aan die voël sonder om die voël op te jaag.

Deelnemers het van so ver as Zimbabwe gekom. Op die foto is Anne Cook met haar Pointer.
Hanteerder Doug Hooper met Dixie was die wenner van die Natalse Patryshond veldkompetisie wat in die Parys-omgewing gehou is

Dan word van die hond verwag om sy aanwysposisie te hou totdat sy hanteerder by die hond is wat hom dan aanmoedig om die voël uit te wys wanneer die bevel gegee word. Sodra die voël opvlieg as die hond vorentoe beweeg, word ‘n skoot in die lug afgevuur met ‘n haelgeweer en los kruit. Geen voël word geskiet of gejag nie. Dissipline is die sleutelwoord, want as die skoot klap moet die hond stilstaan sodat ander voëls nie opgejaag word nie.

Die honde neem in pare deel aan kompetisies na ‘n ewekansige trekking, en kry die hond wat eerste die uitwysing maak dan die punte.

Sy pare-maat moet weet om te wag en ook hiervoor word punte gegee deur die drie beoordeelaars wat saam met die deelnemers in die veld beweeg.

Dit is ‘n baie tegniese sport vertel dok Johan. Naas dissipline moet die hond goeie sosialiseringsvaardighede hê en aanpasbaar wees, want verskillende honderasse kan saam as ‘n paar getrek word.
Hond en hanteerder moet weet wat van mekaar verwag word, want foute in die veld kan jou diskwalifiseer vir die volgende rondte.

Kompetisies word oor twee dae gehou.

Daar is groot dankbaarheid vir die boere wat hul veld beskikbaar stel vir kompetisies, want daarsonder sal die sport tot niet gaan.

Met die kompetisies word mense bymekaar gebring wat dieselfde belangstellling deel vir die veld en diere, en juis dit maak dit soveel meer as ‘n kompetisie, vertel dok Johan.

“Jy sien in watter toestand die veld is, jy leer voëls en hul gedrag ken.”

“Jy kry die ongelooflike beloning van die tyd wat jy insit om die hond te leer wat opsigself ‘n moeilike taak is, en waarvoor jy ‘n ervare hanteerder nodig het om jou touwys te maak.”

Honde het ‘n natuurlike instink om voëls te ruik, vertel dok Johan, maar nie alle honde sal regkom in die sport nie. Kyk maar na ‘n Jack Russel – hy ruik voëls baie goed, maar is moeilik om te dissiplineer en sy kort bene tel teen hom, verduidelik dok Johan wat al sedert 2001 die sport beoefen.

Twee van sy vorige honde, Jag en Mac, was albei kampioene.

Jag was in 2004 Hond van die Jaar, en Mac is in 2008 en 2009 beloon as Hond van die Jaar, en as nasionale kampioen.

“My grootste genot van die sport is om uit te kom en iets te sien van die uitstekende werkvermoë van ‘n hond wat jou mees gertoue vriend is. Sy entoesiasme in die veld is aansteeklik, en dis wonderlik om te sien hoe hulle hul natuurlike instinkte gebruik en ontwikkel tot op die vlak waar jy aan die sport kan deelneem,” vertel dok Johan.

Wat maak van ‘n hond ‘n kampioen, vra jy?
Goeie genetika en die toewyding van sy hanteerder wat hom lei met sy bevele en hondefluite.

Die hanteerders is nie voëlkykers nie – nee, net mense wat ‘n besondere liefde vir die natuur en diere het, en dit uitleef in ‘n sport waar mens en hond mekaar verstaan en volkome respekteer.

Related Articles

Back to top button