Brandverbod geld nou
Mense wat wil voorbrand maak in die Vaal Eden Brandvereniging distrik, moet vooraf aansoek doen vir die nodige permitte
‘n Brand wat Vrydagmiddag in die omgewing van die Likkewaan-kanoklub net buite Parys begin het, en in die rigting van die Parys Golf & Country Estate gebrand het, kon gou onder beheer gebring word. Dit het ook Maandag in die veld agter Dome Primary gebrand met ‘n windspoed wat tussen 17 en 25km/h gemeet is.
Die Vaal Eden Brandvereniging herinner mense dat ‘n brandverbod tans geld tot einde Oktober wanneer die eerste reën val. Die brandverbod in terme van die Veld- en Bosbrandwet, Wet 101 van 1998, beteken dat jy nou geen oop vuur kan maak en aan die gang hou sonder die nodige toestemming nie. Daar is ook ‘n beperking op die maak van voorbrande, en die brand van asgate.

Mense wat wil voorbrand maak in die Vaal Eden Brandvereniging distrik, moet vooraf aansoek doen vir die nodige permitte by admin@fedafpa.co.za. Die Working on Fire Parys-span het reeds begin met gekontroleerde voorbrande.



