Local newsNews

Krag frustrasie – dis hoekom

Wat ‘n verskil kan maak is om waar moontlik elektriese toestelle, pompe en warmwatertoestelle af te skakel wat nie gebruik word nie.

Parys se kragnetwerk is onder erge druk gedurende die wintermaande. Waarom?

Omdat Parys se kragverbruik hoër is wat die enkele 20mVA gekoppelde Eskom transformator kan hanteer en Ngwathe se kragnetwerk weens swak instandhouding uiters broos is moet Ngwathe oorlading van sy netwerk te alle koste probeer vermy. Die geweldige probleem met gebrugde meters en onwettige koppelings vererger ook die situasie.

Die donker kragprentjie vir Parys is dat Ngwathe  sedert 2018 met Eskom onderhandel in ‘n poging om sy jarelange verouderde Aangemelde Maksimum Aanvraag (NMD) te verhoog. Eskom se kwotasie om die NMD vir die 5 Ngwathe dorpe te verhoog het in 2022 al  R66,737,000,00 miljoen beloop. Geld wat Ngwathe nie het nie. Die kwotasie het intussen verval en sal van vooraf aansoek gedoen moet word sou Ngwathe die opgradering wou doen.

Omdat die las op die netwerk nie voorspel kan word nie, moet die las op die kragnetwerk nou voortdurend gemonitor word om oorlading te voorkom.

Eskom het wel ‘n tweede transformator by sy Eskom-substasie in Parys wat lading op die kragnetwerk kon verlig, maar dit kan nie gekoppel  word voordat Ngwathe nie die gekwoteerde bedrag vir opgradering van sy kragvoorsieningsnetwerk betaal nie. Gevolglik is een enkele transformator nie voldoende vir die dorp se gemiddelde kragverbruik nie, laat staan nog in die wintermaande wanneer verbruik heelwat hoër is.

Oorlading van die enkele gekoppelde Eskom transformator was inderdaad dan ook die rede waarom kragtoevoer na Parys op Vrydag 1 Julie 2022 onderbreek is, en die dorp uiteindelik vir vier dae sonder krag was.

Eskom het Ngwathe al in 2022 in kennis gestel dat die kragreus nie die fondse het om te betaal vir die skade wat veroorsaak word weens oorlading van die netwerk nie, en daarom moes Ngwathe in 2022, die bedrag van R1,086,006, 00  bydrae vir die herstel van die skade.

Ngwathe se uitstaande Eskom-skuld het ook aan die begin van Mei al by meer as R2 miljard gestaan.

Wanneer moet krag noodgewonge afgeskakel word?

Sodra die las op die kragvoorsieingsnetwerk te hoog word moet dele noodgedwonge as tydelike maatreël afgeskakel word om die netwerk te stabiliseer en skade aan die Eskom transformator te voorkom. Dikwels gebeur dit ook dat meer as een gedeelte tydens baie hoë verbruik gelyktydig afgeskakel word.

Wat is die gevolg van oorlading van die netwerk?

Oorlading van die kragvoorsieningsnetwerk het veral in vorige wintermaande veroorsaak dat Ngwathe die Eskom-toevoer uitgeskop het, met gevolglike skade by die Eskom substasie waarvoor Eskom Ngwathe geldelik verantwoordelik hou.  Sou die las op die netwerk dus nie beheer word nie, is die risiko  groot om  skade aan die netwerk te kry, en gebeur dit ook  dat Eskom nie altyd kragtoevoer dan onmiddellik na die dorp herstel nie. Eskom moet eers toestemming gee vir die kragtoevoer om herstel te word sodra Eskom tegnici  seker is dat dit veilig is om kragtoevoer na die netwerk te herstel.

 

Hoekom so skielik afsit?

Verbruikers se kragverbruik kan nie vooraf bepaal word nie, daarom word die kragverbruik vir Parys deur Ngwathe se elektrisiteitsafdeling konstant gemonitor. Sodra daar meer verbruik is, word die las groter, soos soggens vroeg en saans tussen 17:00 en 20:00.  Dit sien ons juis op baie koue dae soos nou op Maandag 3 Junie toe temperatuur skielik geval het tot 14 grade maksimum en o grade minimum. Vir die res van die week word ook baie lae temperature voorspel en kan noodgedwonge tydelike kragonderbrekings verwag word om die netwerk te beskerm wanneer meer mense verwarmers, warmwatertoestelle, en elektriese komberse aanskakel.

Sodra die kragtoevoer dan weer herstel word, is verbruik ook onmiddellik drasties hoër omdat almal dan gelyktydig krag verbruik. Dink maar aan stowe en warmwatertoestelle wat almal eensklaps aankom, waar dit andersins sonder ‘n kragonderbreking nie noodwendig op dieselfde oomblik aangeskakel sou wees nie.  Dit beteken dat dele wat af is, dikwels ook nie gelyktydig weer aangeskakel kan word nie.

Hoe kan jy help?

Wat ‘n verskil kan maak om te help om die ligte vir almal langer aan te hou, is om elektriese toestelle, pompe en warmwatertoestelle wat nie gebruik word nie, af te skakel. Geysers plaas veral  ‘n groot las op ‘n kragnetwerk en wanneer huishoudings se geysers  gelyktydig begin krag gebruik plaas dit groot druk op die kragnetwerk.

Hoekom nie betyds vooraf waarsku wanneer krag onderbreek word nie?

Omdat verbruik op gegewe tye nie vooraf bepaal kan word nie, en op kouer dae byvoorbeeld hoër is, wissel verbruik die heeltyd en kan nie vooraf gesê word of die verbruik binne die perk sal wees nie. Gevolglik word dit gemonitor en sodra dit te hoog raak, moet krag dikwels op kort kennisgewing  onderbreek word. Wanneer die verbruik kritiek hoog is, is daar nie kans om vooraf te waarsku nie en moet die netwerk beskerm word.

Die munisipaliteit het nou n WhatsApp kanaal waar kragwaarskuwings gegee word. Die skakel is https://whatsapp.com/channel/0029Va9iTRkH5JM82zMSiA1R

 

Wanneer moet ek kragonderbrekings rapporteer?

Sou jou krag na ‘n kragonderbreking nie weer aankom nie, moet jy dit rapporteer.  Onthou dat daar steeds foute op die netwerk kan kom en dat diefstal en sabotasie ook kragonderbrekings veroorsaak.

Waar rapporteer ek kragonderbrekings:

(056) 816 2700

(056) 811 5834

082 909 3464

 

Related Articles

Back to top button