Local newsNews

Die Koepel-wonder bekyk

Die Bewarea bied gereeld uitstappies en kuieraande in die Koepel aan waarby genooide deskundiges oor ´n wye verskeidenheid onderwerpe gesels.

´n Groep Koepel-inwoners het Saterdag aan prof. Roger Gibson van die Universiteit van die Witwatersrand se lippe gehang, toe hy vertel het van die meteoriet-impak wat die Koepel 2020 miljoen jaar gelede gevorm het.

Hoewel baie mense bewus is van dié impakkrater wat as die oudste en grootste ter wêreld beskou word, het daar geologies baie gebeur, en is dit belangrik dat ´n deskundige die huidige vorm van die Koepel interpreteer.

Prof. Gibson het reeds as nagraadse student op die geologie van die Koepel navorsing gedoen.

Hy het sy hele lewe aan die geologie van impakverskynsels gewy.

Die uitstappie het by die Salvamento-steengroef met ´n verduideliking van die indrukwekkende pseudo-tachiliet-formasies in die graniet begin, en na drie verdere punte van geologiese belang by die rotsgravures in die kerngebied van die Koepel suid van Parys geëindig.

By elkeen is getuienis in die bewysvoering van die impak-oorsprong van die Koepel aangebied, en het ´n spannende vervolgverhaal so ontvou, met besonderhede soos die geweldige krater van tot 40 km diep wat deur die meteoriet in die aarde se kors geslaan is, en die ontstaan van die ryk goudvoorkomste op die rand van die formasie.

Die Bewarea bied gereeld uitstappies en kuieraande in die Koepel aan waarby genooide deskundiges oor ´n wye verskeidenheid onderwerpe gesels. By die volgende Koepel
kuier-geleenthede sal temas soos die wisselwerking tussen bewaring en jag, en die rol van insekte behandel word. Die geleenthede word op die plaaslike WhatsApp-groepe en in die koerante bekendgemaak.

Inligting is ook by Gerhard Benade by 083 280 9784 of per e-pos by gerhard@deelfontein.co.za beskikbaar.

Related Articles

Back to top button