Local newsNews

Protesoptog oor dorp se water dié week gehou

Dié groepe se gemeenskaplike dors na geregtigheid én skoon drinkwater laat hulle nou saam standpunt inneem

 AfriForum en verskeie plaaslike gemeenskapsorganisasies, gemeenskapsleiers en inwoners van Parys, Tumahole en Schonkenville gaan Donderdag (23 Mei 2024) ‘n protesoptog na die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit hou oor die dorp se voortslepende waterprobleme.

“Dié groepe se gemeenskaplike dors na geregtigheid én skoon drinkwater laat hulle nou saam standpunt inneem teen dié munisipaliteit se onvermoë om skoon drinkwater aan die nagenoeg 50 000 inwoners van Parys en die omliggende nedersettings te bied,” is vandag, Dinsdag 21 Mei in ‘n verklaring gesê.

Die groep organisasies, wat kollektief onder die Metsi Pompong Waterinisiatief optree, dring daarop aan dat daar sonder verdere verwyl aan hul eise gehoor gee word.

Verteenwoordigers van die onderskeie organisasies sal na afloop van die optog  ’n memorandum aan die munisipale bestuurder, dr. F.P. Mothamaha, oorhandig waarin die groep se eise oor die lewering van skoon drinkwater en die bestuur van Parys se waterwerke uiteengesit word.

AfriForum is ook in gesprek met die Vrystaatse premierskantoor oor die dorp se waterprobleme, is gesê.

Optoggangers sal vanaf 08:00 byeenkom op die terrein tussen die Parys-biblioteek en die Parys-brandweerstasie in Phillipstraat, waarna die verrigtinge om 09:00 sal begin en die prosessie die munisipale kantoor na verwagting teen 09:45 sal bereik.

In kennisgewings oor die optog is gevra dat daar

  • geen verwysings na politiek
  • geen kinders o.18
  • geen vuurwapens
  • geen kledingstukke wat politieke partye of instansies verteenwoordig
  • geen geweld of vandalisme

sal wees tydens die protesoptrede nie.

Related Articles

Back to top button