Local newsNews

Eers Ouma se Huis en nou nog nuwe planne

Hier kom opwindende nuwe verwikkelinge vir Udolpho

As jy nog nie op die FAK se Udolpho Rivierplaas net buite Parys was nie, is ’n besoek aan die plaashuismuseum hier beslis die moeite werd. Veral as herinneringe aan toeka se tye jou ná aan die hart lê. Tye toe daar nog pyp gerook is op die stoep, ‘n koppie Boeretroos in die hand en die reuk van varsgebakte brood wat syfer deur die koolstoofhortjies, Ouma se huis is ’n lewende herinnering saamgestel uit erfstukke, en jare se versamel en bymekaarmaak.

En nou is daar nog heelwat nuwe en interessante verwikkelinge wat kom vir Udolpho. Hieronder tel ‘n militêre museum, ‘n tipiese negosiewinkel uit vervloë se dae en uitstallings van onder meer die depressie van die 1930’s,  en hoe ‘n poskantoorbank vroeër jare gelyk het.

Die beplanning is om  vroeg Mei met die bouwerk te begin.

Vandeesweek is die betonblad ook gegooi vir die vraghouer wat hier geplaas en ingedeel sal word vir die onderskeie uitstalruimtes.

‘n Waardevolle fondasie vir ‘n groot nalatenskap. Dankie Gys en Kobie Ströh vir die beton. 

Jy kan gerus vir Jan Danie Malan kontak en ‘n tyd reël om solank ‘n draai by Ouma se Huis te maak as jy in die Parys-omgewing is en ‘n liefde het vir geskiedenis.  Die besondere museum sal jou nie teleur stel nie. Jan-Danie se nommer wat gedurende kantoorure geskakel kan word, is 082 965 7002.

Meer oor Ouma se Huis:
Die ou plaashuis van Henning Klopper is deur die FAK in samewerking met die Erfenisstigting en verskeie belanghebbendes in 2022 opgeknap sodat eeue oue tradisies hier beleef en herleef kan word.

Dit is moontlik gemaak danksy die hulp van Gys en Kobie Stroh van die FAK se Vaal-Kultuurnetwerk. Dit is juis die Ströh-egpaar se besondere liefde vir oudhede wat hierdie projek vir net meer as ‘n jaar gedryf het om uiteindelik die museum te kon open.

As jy aan museums dink as stowwerige, toegemaakte, ontoeganklike geboue, sal Ouma se Huis jou aangenaam verras. Dit is ‘n plek waar jy die luuksheid van oudheid beleef. Kosbare versamelstukke aangevul met meubels van die voormalige eerste minister JG Strijdom se huis in Modimolle (Nylstroom), wat ook aan die projek geskenk is.

Die Modimolle-Mookhophong plaaslike munisipaliteit in Limpopo het die meubels aan die FAK beskikbaar gestel volgens ‘n bruikleen-ooreenkoms. Daarmee saam is ook verskeie interessanthede uit die Strijdom-huis hier te sien waaronder die regsboeke van adv. Strijdom, sy besondere bottelversameling, sy oorspronklike staatstelefoon, tikmasjien en die doodskis wat hy laat maak het en toe nooit self in kon pas nie.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button