Local newsNews

Groot eer vir bekroonde Parys-skrywer

Uit Zelda se pen het reeds ses jeugromans en twee boeke vir volwassenes verskyn. Quinn se jaar van Kwik sal haar negende boek wees.

Bekroonde skrywer en Parysenaar, Zelda Bezuidenhout, se nuutste pennevrug is aangewys as een van die naaswenners van Lapa Uitgewers se 2023 Jeugromankompetisie. Haar boek met die boeiende titel, Quinn se jaar van kwik, word deur Lapa Penguin Random House gepubliseer. Lesers sal egter tot die lente moet wag om die roman te lees. Dit sal in Oktober op die rakke wees, sê Zelda.

Zelda verklap dat die hoofkarakter in die boek die 17-jarige Quinn Albertyn is wat haar in ‘n elite-skool naby Pretoria in haar matriekjaar bevind. Sy het drooggemaak by haar vorige skool en haar ma het haar na dié streng skool gestuur as ‘n soort straf. Quinn wil regtig net fokus op skoolwerk en goeie punte kry sodat sy met die lewe ná skool kan aangaan, maar sy besef gou dat daar iets groot skort by Excellentia – haar nuwe skool. Iets waaroor niemand praat nie. Die skool se leuse is – “Ons kyk vorentoe”, maar “Ons kyk weg” sou meer akkuraat gewees het.

Bekroonde skrywer Zelda Bezuidenhout met die trofee wat sy ontvang het as een van die naaswenners van Lapa Uitgewers se 2023 Jeugromankompetisie.

Die algehele wenner van die kompetisie was die veelbekroonde Fanie Viljoen, met sy roman “Ons laaste legendariese somer”. Die ander naaswenners was Jacolet van der Berg en Annerle Barnard. Zelda was in 2018 ook ‘n naaswenner in dieselfde kompetisie met haar jeugroman, “As mens geluk kon proe” (tans in sy derde druk).

Uit haar pen het reeds ses jeugromans en twee boeke vir volwassenes verskyn. Quinn se jaar van Kwik sal haar negende boek wees.

Lesers kan ook uitsien na nog ‘n pennevrug wat in 2025 deur Tafelberg Uitgewers uitgegee sal word. Zelda het haar veelsydigheid as skrywer by herhaling bewys, nie net as jeugboekskrywer nie, maar ook met die skryf van radiodramas. Haar radiodrama, “As ‘n kind kom kuier” is in 2019 as naaswenner in RSG se radiodramakompetisie aangewys. In 2020 wen sy en haar medeskrywer, Lunéll Kruger, ook Netwerk24 se luisterdrama-kompetisie.

Related Articles

Back to top button