Local newsNews

Kuberveiligheid: Beskerm jou kind so

Doen jou navorsing, wees op hoogte van die jongste tegnologie en in die geval van jou kinders, maak seker jy is deel van hulle aanlyn lewe sodat jy nie op ’n dag verras word omdat jy nie geweet het nie

 

Die kuberruim het ’n hele nuwe wêreld oopgemaak. Met die ontwikkeling van kunsmatige intelligensie (KI) is die moontlikhede legio en iets waarsonder ons nie meer kan klaarkom nie.

Daarom dan ook dat kuberveiligheidskenner, Rianette Leibowitz, reeds in 2021 in ’n reeks video’s op Netwerk24 se LeerSaam-platform, gesê het dat die internet asulks nie ’n slegte plek is nie, en dat sosiale media talle geleenthede bied, maar dat dit elke ouer se verantwoordelikheid is om toe te sien dat ons kinders bewus is van die risiko’s en aanlyn veilig gehou word.

Hier is goeie raad van Afrikaans.com waarna ouers gerus kan kyk

Aanlyn teenwoordigheid is hier om te bly – die goed en die sleg

Moenie jouself flous en dink jy kan jou kind weghou van die internet nie of hulle straf deur hulle toestelle weg te neem nie. Ja, daar moet grense en reëls in plek wees, maar die onderrigmetodes het sodanig verander dat internetgebruik onafwendbaar is.

Dit is ook aanlyn waar ons kinders met ander kontak maak (“connect”) – en dit is hierdie “connectedness” wat hulle laat tiek. Ongelukkig is dit ook hier waar hulle blootgestel word aan die gevare en kuberboeliery.

Hierdie realiteit noodsaak dus dat ons as ouers onsself moet bemagtig om seker te maak ons verstaan hoe die verskillende toepassings, webwerwe en so meer werk. Ons moet as’t ware die gevare of risiko’s sien voordat dit ons kinders negatief kan raak.

Blootstelling

Dit sluit kuberboeliery in. Maak seker jy weet wat dit is en wees bedag daarop. Dit is daarom belangrik om ’n goeie verhouding met jou kind te hê sodat hulle die vrymoedigheid sal hê om hulle bekommernisse met jou te deel.

Ouerskapkenner, Heidi Malan van Parent & Educational Training, sê dat die soort boeliery selfs meer skadelik kan wees as tradisionele boeliery omdat dit heeldag en aldag kan voorkom en ’n baie wyer gehoor kan bereik.

Dis moeilik om te identifiseer, veral as jy nie bewus is van wat op jou kind se sosialemediaplatforms gebeur nie.

Kuberboeliery sluit aanlyn vernedering en negatiewe opmerkings in, en daar word dikwels foto’s en video’s geplaas waar die slagoffer geteiken word. Wat dalk vir jou as volwassene nie “so erg” lyk nie, is dikwels nie die geval vir ’n jong mens nie, en vir so ’n kind voel dit asof sy hele wêreld inmekaartuimel – met soms ernstige gevolge.

Maak dus seker jou kind weet dat

  • boeliery NOOIT aanvaarbaar is nie;
  • hy daarteen MAG en MOET opstaan;
  • hy nie op kwetsende boodskappe moet reageer nie;
  • hy ander wat geboelie word, moet ondersteun; en
  • hy daaroor moet praat.

Ouers kan die volgende doen:

  • Monitor jou kind se aanlyn aktiwiteit – “ek het nie geweet nie” is nie ’n verskoning nie! Gaan dus hul privaatheidinstellings na om seker te maak ongewenste persone kry nie toegang tot hul persoonlike inligting nie.
  • Beklemtoon die belangrikheid van internetveiligheid. Dis sluit in:
    • Aanlyn privaatheid en die beskerming van persoonlike inligting – moenie foto’s, video’s, id-nommers, telefoonnommers, ens. sommer net deel nie. Kyk maar mooi wat is in die agtergrond van jou foto – dit is dikwels moontlik om uit die agtergrond vas te stel waar jy jou bevind – net wat ’n persoon met slegte bedoelings nodig het.
  • Moedig jou kind aan om te dink wat die gevolge van hulle woorde en/of optrede op ander kan hê – en hulle daarom eers moet dink voordat hulle ’n plasing maak.
  • Beperk tegnologiegebruik. Dis sluit in die hoeveelheid tyd wat jou kind aanlyn en op toestelle spandeer, beperking van sekere webtuistes en toepassings, en veral ook op die ouderdomsgepastheid hiervan sodat jou kind nie blootgestel word aan ongewenste inhoud nie. Gee vir jou kind redes as jy voel ‘n sekere toepassing is nie geskik nie.
  • Stel die voorbeeld en handhaaf goeie digitale gewoontes. Jy kan nie vir jou kind sê hy mag nie heeldag op sy foon wees nie en dan is jou foon permanent deel van jou hand nie.
  • Leer hulle om nie alles op sosiale media vir soetkoek op te eet nie. As hulle onseker voel oor iets, hetsy morele kwessies of ander uitdagings en of iets die waarheid is, moet hulle eerder vir jou as ouer vra om te help.
  • Dring aan op digitaalvrye aandetes. Toestelle word weggesit en daar word rondom die etenstafel gesels.
  • Moedig persoonlike kommunikasie aan. Dit het te maklik geraak om vinnig ’n WA of stemboodskap te stuur, in plaas daarvan om van aangesig tot aangesig met vriende te kommunikeer – veral as dit iets is wat uitgepluis moet word.
  • Praat met jou kind oor empatie. Maak hulle bewus daarvan dat almal nie eenders is nie en ook nie dieselfde reageer nie. Leer hulle dat “hulle manier” nie noodwendig die “regte” of “enigste manier” is nie en dat hulle maar gerus daardie maat sy plekkie in die son kan gun.

Beveilig jouself

  • Dink voor jy klik. Die kuberskelms wil ons uitvang. Wees daarom bedag op e-posse met vreemde adresse of spelfoute – tipiese “phishing”-e-posse/boodskappe. Daardie e-pos wat lyk asof dit van jou bank afkomstig is – met die “regte” logo – maar die adres gee hulle weg …
  • Fopnuus. Maak tog seker wat jy lees is die waarheid voordat jy dit met ander deel. (Tik “fake news” in jou soekenjin in om maniere te kry om na te gaan of iets waar of vals is.)
  • Beskerm jou persoonlike inligting. Maak seker jy weet wat met jou inligting gedoen kan word. Jy kan die stellings op jou foon of rekenaar aanpas en slegs toestemming gee vir dit waarmee jy gemaklik voel.
  • Bankdienste en aanlyn inkopies. Dit is te heerlik en gerieflik, maar weereens belangrik om bedag te wees op die gevare van kuberkraking (“hacking”). Een wenk is om nie jou inligting te stoor (“save”) nie. Doen liewer elke keer die transaksie van vooraf.

’n Laaste gedagte

Jy is in beheer. Doen jou navorsing, wees op hoogte van die jongste tegnologie en in die geval van jou kinders, maak seker jy is deel van hulle aanlyn lewe sodat jy nie op ’n dag verras word omdat jy nie geweet het nie. Rianette Leibowitz sê tereg: “Elke klik laat ’n digitale voetspoor en lei tot ’n rimpeleffek.” Daarom, neem beheer, stel grense en onthou: die persoon langs jou in lewende lywe is baie belangriker as die een met wie jy tans aanlyn gesels!

Lees ook:

Vyf wenke om kuberboeliery te hanteer – Afrikaans.com

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button