Local newsNews

Skoolkinders vroeër huis toe oor Heilbron waternood

Om te voldoen aan Randwater se eis dat die lopende rekening gereeld betaal word en ‘n afbetalingsplan vir die agterstalliges skuld beding en nagekom word, is eenvoudig onhaalbaar gegewe Ngwathe se huidige finansiële krisis.

Leerders van die Sandersville Gekombineerde skool in Heilbron moes Woensdag 13 Maart vroeër huis toe gestuur word weens die ernstige watertekorte waaronder die dorp al sedert Desember gebuk gaan, sê Robert Ferendale, ‘n DA-raadslid van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit.

Randwater het in ‘n verklaring op 1 Maart bekendgemaak dat die dorp se watertoevoer met ‘n verdere 20% ingekort word weens die Ngwathe munisipaliteit se uitstaande skuldrekening aan Rand Water wat met die skryf van die berig ongeveer R 66 miljoen beloop het. Randwater het reeds op 13 Desember die dorp se watertoevoer verminder vanaf die toe normale 8 megaliter water per dag na ongeveer 4,6 megaliter per dag.

Ferrendale sê sy party het die afgelope week vrae gerig aan die Ngwathe munisipaliteit se waarnemende munisipale bestuurder, mnr. Teboho Manele, oor of ‘n afbetalingsplan vir Ngwathe se agterstallige skuld al aan Rand Water voorgelê is. Hy sê vrae oor die aangeleentheid is al op 4 Maart aan die munisipaliteit gerig, maar steeds nie beantwoord nie.

Heilbron is die enigste Ngwathe dorp wat deur Rand Water van drinkwater voorsien word, maar slaag die munisipaliteit nie daarin om sy maandelikse verpligting teenoor die waterverskaffer na te kom nie.

Gevolglik is vloeibeheer vir Heilbron deur Rand Water ingestel as ‘n kredietbeheermaatreël. Verbruikers byt egter nou die spit af, en kan die dorp nie oorleef op die huidige volumes water wat Rand Water aan die dorp voorsien nie. In sommige dele is die waterdruk so laag dat krane dolleeg is, sê Ferrendale.

Hy sê mense moet nou water in houers aandra, en is dit veral skole en bejaardes wat swaar trek. Die DA kry daagliks klagtes van gefrustreerde inwoners oor die watertekorte, sê hy, en voeg by dat die dorp se waterkrisis die produk is van wanbestuur en totaal voorkom kon word.

Ook die Vryheidsfront Plus se rdl. Philip van der Merwe het die verminderingskwessie op 16 Januarie met Ngwathe se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, opgeneem, met ‘n dringende versoek dat sy ‘n onderhoud reël tussen ‘n veelparty afvaardiging van Ngwathe, en die raad van Randwater. Hy het kort daarna, na geen reaksie van die burgemeester, ook die kwessie na die minister van waterwese ge-eskaleer.

Die reaksie wat hy van Randwater gekry het was dat Ngwathe nooit op die verminderingskennisgewing gereageer het nie, en die gevolgtrekking daarom was dat Ngwathe die vermindering aanvaar.

Die burgemeester het egter ontken dat sy nie met Randwater reëlings probeer tref het nie, sê rdl. Van der Merwe.
Hy het hierop bewyse van haar interaksie met Rand Water aangevra maar sonder sukses.

Hy het daarna ‘n tweede dringende skrywe aan haar gerig met ‘n afskrif aan die minister om dringende ingryping te vra.

Ngwathe vorder tans volgens die jongste syfers kontantvloeigewys slegs ongeveer 40% van sy begrote inkomste in, hoofsaaklik omdat baie min inwoners hul erfbelasting, rioolgelde, vullisverwyderingsgelde, waterverbruik en selfs elektrisiteitsgebruik betaal. Gebrugde elektrisiteitsmeters is ‘n groot probleem en die munisipaliteit beskik eenvoudig nie oor die wil of vermoë om die probleem aan te spreek nie.

“Om te voldoen aan Randwater se eis dat die lopende rekening gereeld betaal word en ‘n afbetalingsplan vir die agterstalliges skuld beding en nagekom word, is eenvoudig onhaalbaar gegewe Ngwathe se huidige finansiële krisis. Sonder ingryping van die nasionale regering voorsien ek nie dat ‘n oplossing gevind sal kan word nie” sê rdl. Van der Merwe verder.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button