Local newsNews

Dié dorp se mense ken van saamwerk

Vanoggend was dit Operasie Skoonmaak in Vredefort se strate want eersdaags maak die dorp weer sy strate oop vir mense van oral oor vir die jaarlikse Kruistog.

Dit is vroeg Saterdagoggend en die son bak warm, maar in die strate van Vredefort is by die 50 mense aan die skoonmaak. Grassnyers en kantsnyers dreun in De Wetstraat, Oranjestraat, Voortrekkerstraat en van die systrate. Almal – oud en jonk het die moue opgerol. Hier word gewerk, want tyd is min.

Oor minder as twee weke maak die dorp sy hart en sy strate oop vir die jaarlikse Kruistog op 29 Maart. By die 3 000 mense word verwag vir die besondere Via Dolorosa-ervaring op Paasfees hier in die hart van die Vredefort Koepel.

Elke jaar die tyd sien jy dieselfde gesig. Die omgee en saamwerk van ‘n dorp se mense om seker te maak mense beleef Paasfees op ‘n besondere manier.

Dit kon jy vanoggend sien – mense wat werk sonder om iets terug te verwag. ‘n Dorp wat sy trots wys ten spyte van tekortkominge.

Behalwe vir al die vrywillige hande het die hele span van Gras en Blaar Tuindienste gekom om te help.

Na die tyd het almal saam geëet. ‘n Dag wat die dorp se mense saamgesnoer het met net een doel voor oë – om die beste voet voor te sit vir Paasfees.

Vir weke lank vou inwoners al aan  duisende plastiekblomme vir die vlot wat die wederkoms sal voorstel en aan die voorpunt van vanjaar se optog sal beweeg.

In die week wat kom moet nog baie gedoen word.

Lamppale word geverf en met lappe versier. Die doringkrone op die lamppale moet opgesit word. Daar is nog baie skoonmaak nodig op die 3km sirkelroete wat met die Kruistog deur die dorp gestap sal word.

Daar moet stasies gebou word langs die roete. Uitbeeldings van die lewe en bediening van Jesus, en voorstellings van Sy gelykenisse. Boere rondom Vredefort stuur jaar na jaar hul sleepwaens dorp toe sodat die verskillende stasies langs die roete op dié sleepwaens uitgebeeld kan word, en dit duidelik sigbaar kan wees tydens die massa-optog.

Die week sal daar elke dag van 09:00 tot 13:00  by die Dinamika-gemeente aan die blomme vir die vlot gevou word.

Projek kruisbou

Komende Saterdag sal daar kruise gebou word vir die Kruistog – ook by die Dinamika-gemeente.

Kom bou jou eie kruis of help om kruise vir ander te bou wat saam die Kruistog sal stap. Al die planke, gereedskap, gom en skroewe wat jy kan nodig hê, sal daar wees. En na die tyd ‘n gratis vetkoek en maalvleis vir almal wat gehelp het.

Dorpsopheffingsprojek

Vanjaar is reeds die derde Kruistog wat die gemeenskap aanbied en jaar na jaar groei dit. Dit is ‘n gemeenskapsprojek uit die gemeenskap vir die gemeenskap en omdat die Kruistog gratis is, word staatgemaak op die goedheid van mense. Borge wat hul harte oopmaak vir die projek. Mense wat hul tyd en kundigheid gee om te help. Met hul kreatiwiteit help om die stasies en vlotte te bou. Daar is plek vir elkeen – of jy help skoonmaak het vanoggend, gaan help kruise bou of sommer net daar is om te ondersteun. Hierdie projek praat met mense se harte, want dit gaan oor soveel meer as wat op 29 Maart hier beleef sal word.

Luister maar as jy weer deur die dorp ry – die kloktoringhorlosie van die dorp se NG Kerk is een van die projekte wat uit die Kruistog voortgevloei het, want daar is seker gemaak dat al om die halfuur en uur die klokkespel weer in die dorp se strate gehoor sal word.

Duisende plastiekblomme word gevou vir die versiering van die vlot. Die spannetjie het Maandag help vou.
Daar is al ver gevorder met die bou van die vlot wat aan die voorpunt van die Kruistog sal wees.

Wat gebeur op 29 Maart met die Kruistog

Met die Kruistog op 29 Maart sal daar vroegdag by die dorp se sportgronde bymekaar gekom word vir die voorprogram met lofprysing en aanbidding vanaf 10:30 saam met plaaslike kunstenaars soos Lizette Combrinck, Richann Brüssow en Andries D’Alebout. Daarna word ‘n kruisformasie gevorm en ‘n hommeltuigfoto geneem. Die nagmaal sal dan bedien word waarna mense die Kruistog-roete sal stap wat begin en eindig by die sportgronde. Die kruistog duur ongeveer ‘n uur vanaf 12:00 die middag tot 13:00.

Die roete word teen ‘n gematigde pas gestap en is so dat oud en jonk gemaklik kan saamstap. Daar is ook voertuie beskikbaar vir mense wat nie kans sien om die roete te stap nie.

Langs die roete sien jy uitbeeldings van die lewe en bediening van Jesus, en voorstellings van Sy gelykenisse.

Om deel te neem aan die Kruistog is gratis. Daar is ook ‘n gratis aandenking vir elkeen wat die Kruistog meegemaak het om jou te herinner aan dit waaroor Paasfees gaan. .Al waarvoor jy sal betaal is as jy die kosstalletjies by die sportterrein wil ondersteun.

Voorsiening word gemaak vir ‘n beskermde area waar mense teen ‘n fooitjie hul kinders met gemoedsrus onder toesig kan los terwyl jy deelneem aan die massa-optog. Daar sal ook ‘n spesiale kinderprogram aangebied word en gaan die kinders hul eie kruise maak.

Gesels met Juan Greeff by 079 874 1860 as jy wil help met die voorstellings langs die roete. Daar is soveel geleentheid om betrokke te wees of te gee.

Gesels met Paul Joubert by 071 116 1755 as jy wil help met die vlotbouery.

Mense wat wil hulp aanbied met die dorp se skoonmaak en verfraaiing kan Johann Bloem by 083 626 8103, of Adolf Greeff by 083 419 7369 skakel.

Hou ook die Kruistog-webblad dop by www.kruistog.co.za, of stuur ‘n e-pos na info@kruistog.co.za, of WhatsApp na 079 874 1860 as jy meer wil weet oor die Kruistog, betrokke wil wees of wil bydra.

Dit is jou hande wat nodig is om van hierdie Kruistog ‘n sukses te maak. Of jy oud of jonk is, Kreatief of met tien duime, daar is plek vir jou om hierdie Kruistog te beleef.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button