Local newsNews

Direkteur se kwalifikasie al met aanstelling bevraagteken

DA-raadslede het vandeesweek gereageer op 'n berig oor 'n skikking wat bereik moet word vir die beëindiging van mnr. Malunga se dienstermyn wat nou ontplof het as 'n duur debakel vir Ngwathe.

Daar was reeds in 2020 teenkanting van opposisie raadslede teen die aanstelling van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se direkteur tegniese dienste omdat hy volgens DA-raadslede nie die wetlik voorgeskrewe kwalifikasie vir die pos gehad het nie. Wetgewing spel dit duidelik en onomwonde uit dat ‘n kandidaat kwalifiseer slegs indien hy ‘n B.Sc of B.Tech graad in ingenieurswese of iets soortgelyk het,” sê DA-raadslid Arnold Schoonwinkel.

“Mnr. Malunga het ‘n kwalifikasie as bestekopnemer, en dis wetlik onvoldoende,” het rdl. Schoonwinkel vandeesweek gesê. Hy sê die destydse munisipale bestuurder van Ngwathe, mnr. Bruce Kannemeyer, het die Raad toe verseker twee senior provinsiale amptenare het mnr. Malunga wel as geskikte kandidaat goedgekeur, ten spyte van sy gebrek aan die voorgeskrewe ingenieurskwalifikasie.

Die aanstelling is daarop bevestig, onder politieke druk van die ANC-meerderheid op die Raad.

DA-raadslede het vandeesweek gereageer op ‘n berig oor ‘n skikking wat bereik moet word vir die beëindiging van mnr. Malunga se dienstermyn wat nou ontplof het as ‘n duur debakel vir Ngwathe.

Mnr. Malunga is sedert September 2023 nie op kantoor nie, maar ontvang steeds sy volle salaris. Sy vyf jaar kontraktermyn verstryk eers op 30 Oktober 2025.

Die fiasko in die munsipaltieit se belangrikste diensleweringsdepartement sloer al maande na die tugverhoor-verleentheid na mnr. Malunga se tydelike skorsing oor klagtes wat verband gehou het met pligsversuim, en versuim om wettige opdragte uit te voer. ‘n Onafhanklike ondersoeker wat die geldigheid van die klagtes teen mnr. Malunga moes ondersoek, het in Junie 2023 in sy terugvoerverslag aangedui dat daar gronde is vir vervolging, en moes die tugverhoor binne drie maande afgehandel word. In September 2023 het die raad gehoor dat die tugverhoor nooit kon plaasvind nie, omdat die getuienisleier en aanklaer nie sy mandaat kon uitvoer nie, weens gebrek aan samewerking van getuies.

Die gevolg was dat mnr. Malunga in September 2023 terug was by die werk waar hy aangeval is, volgens ‘n item in die raadsnotule. Daarna was hy nog nie weer op kantoor nie, omdat hy aangedui het dat hy vrees vir sy veiligheid by die werk. Met 20 maande van die kontraktermyn wat oor is, het die raad tydens ‘n spesiale sitting besluit dat ‘n komitee namens die raad moet onderhandel oor hoe die voorgestelde skikkingsbedrag aan mnr. Malunga oorbetaal sal word.

Die raad het ook besluit dat sodra ‘n ooreenkoms geteken is, ‘n aanstelling uit die tegniese departement gemaak moet word om in die pos waar te neem, en die pos dan geadverteer moet word. Hoewel mnr. Phele wat hoof van watervoorsiening is met mnr. Malunga se aanvanklike skorsing hangende die ondersoek as direkteur waargeneem het, kon daar nie weer ‘n waarnemende direkteur aangestel word nie omdat Malunga steeds die pos beklee.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button