Local newsNews

Steun vir blink planne soos dié eerder nodig as ‘n geldjie in die hand

Die grootste kommer is die effek wat die toename van haweloses op straat op misdaad het, maar om werklik die probleem aan te spreek is die hele gemeenskap se samewerking nodig,

Verskeie instansies in Parys gaan poog om kragte saam te snoer in ‘n poging om ‘n werkbare oplossing te probeer kry vir die groeiende probleem met haweloses in die dorp se strate.

Die gedagte is om ‘n plek van heenkome te probeer vind vir dié haweloses en terselfdertyd mense aan te moedig om  bestaande voedingsinisiatiewe te ondersteun vir hulle in nood, eerder as om geld te gee aan hulle wat bedel op straat.

Omdat Parys ‘n toerismedorp is gee mense graag, maar in die proses dra dit by om die probleem te vererger, sê Braam Cilliers van MooiParys.

Hy sê verskeie mense uit die gemeenskap het die afgelope tyd na vore gekom met voorstelle en sal daar Vrydag, 15 Maart by die Rotary-klub byeen gekom word om te gesels oor moontlike oplossings om die probleem aan te spreek.

As jy positiewe voorstelle het laat weet Braam by 072 779 4079.

Die grootste kommer is die effek wat die toename van haweloses op straat op misdaad het, maar om werklik die probleem aan te spreek is die hele gemeenskap se samewerking nodig, sê Braam. Hy sê AfriForum het reeds hul steun vir die projek gegee om onder meer borde op te sit wat mense aanmoedig om eerder bestaande inisiatiewe te ondersteun soos Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) se blink plan vir ‘n bord kos en skoner strate.

Hoe werk die VVA se koeponstelsel?

Werklose mans wat deel is van die koskoeponstelsel meld daagliks om 8.00 by VVA se kantoor aan waar hulle verwys word na van die besighede in die dorp wat deel is van die stelsel. Die persoon ontvang ook ‘n gemerkte sak vir die vullis wat opgetel word. Die persoon maak dan vanaf 8:00 tot 10:00 skoon voor die besigheid na wie hy verwys is. Daarna handig hy weer die gemerkte sak in by die VVA-kantoor en ontvang dan ‘n koepon en sy ete by die VVA se sopkombuis. Die etes is beskikbaar tussen 10:00 en 11:00.
 Indien die persoon ‘ n gesin het, maak VVA ‘n afspraak met’ n maatskaplike werker, wat die gesinne evalueer om te kwalifiseer vir gesinspakkies.
 Bejaardes kan daagliks gratis eet.
Dames is ook welkom –  hul help gewoonlik in die kombuis vir daardie tydperk.
Daar word sover moontlik gepoog om dieselfde persoon by een besigheid te plaas om sodoende te verhoed dat daar elke dag, iemand vreemd by ‘n besigheid is om skoon te maak.
Daar is resultate
Gedurende Januarie is van Vrystaat Versorging se helpers wat deel is van die koeponstelsel, by die kliniek in Buitenstraat geplaas om op die sypaadjie netjies te maak.

Vir twee weke lank is drie werkers hier geplaas wat onverpoosd geskoffel het, en die resultaat is merkwaardig.

‘n Stelsel wat verseker werk.
Hoe kan jy help?
 Besighede is welkom om Sanette by VVA te kontak en ‘n donasie van jou keuse te gee vir n maand se etes wat daagliks voorsien word.
So probeer VVA bedelaars van die straat af kry en ook werk skep vir daardie bord kos.
Terselfdertyd help dit om strate skoon te hou.
Teen einde 2023 was daar reeds 33 persone met koeponne wat daagliks help skoonmaak het.
Ses en sestig ure se arbeid daagliks om strate en sypaadjies skoon te maak – dit maak verseker ‘n verskil.
VVA moedig weer besigheidseienaars en ook die publiek aan om  koeponne of vullissakke te borg eerder as om vir iemand geld in die hand te stop.
So is jy verseker iemand in nood kry n bord kos daagliks waarvoor hy werk.
Skakel Sanette by 0793240603, of die VVA kantoor by (056) 811 2971 vir meer inligting oor die koeponstelsel.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button