Local newsNews

Enorme logistieke uitdagings en koste oor sloering met tronkprojek

Die proses wat in Parys gevolg is, is onlogies, en sal die nuwe kontrakteur, verskeie werk van die vorige kontrakteur moet oordoen.

Die Parys Korrektiewe sentrum is net een van vele voorbeelde regoor die land waar kontrakte om staatsgeboue op te gradeer toegestaan is, geld uitbetaal is, en kontrakteurs dan nooit die werk voltooi het nie. Vrae hieroor gaan nou deur die DA aan die Minister van Openbare Werke in die parlement gestel word, en sal kriminele klagte teen onder meer die voormalige kontrakteur oorweeg word.

So is die naweek gesê met ‘n oorsigbesoek aan die sentrum deur die DA se Skaduminister vir Openbare Werke, Sello Seitloho, vergesel van DA LP George Michalakis, verantwoordelik vir die DA in die Justisie-en Sekuriteitkommitee in die Nasionale Raad van Provinsies.

Die bouprojek vir die vergroting en opknapping van die Parys Korrektiewe Sentrum is op 28 Februarie aan ‘n nuwe kontrakteur oorhandig, nadat dié projek waarvoor R282 miljoen aanvanklik begroot was, vir maande stilgestaan het omdat die vorige kontrakteur se kontrak weens swak prestasie beeïndig is.

Vroeër is gesê kontantvloei probleme van die vorige kontrakteur wat die sentrum moes vergroot en opgradeer, was die hoofrede waarom konstruksiewerk nie binne die vyf jaar kontraktermyn voltooi is nie. Die situasie is deur Covid vererger, is gesê.

Die projek is destyds in Desember 2018 aan NJR Projects (wat later hul naam verander het na die G5 Group) toegeken teen ‘n bedrag van R282 miljoen.
Die bouperseel is aanvanklik in Februarie 2019 aan die kontrakteur oorhandig, en moes die 36 maande kontrak teen April 2023 voltooi wees.

In Februarie 2023 is die kontrak egter met G5 beeïndig weens swak prestasie. Van die toegekende kontrakkoste was R130 879 446,811 toe reeds spandeer.

Met die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Sihle Zikalala se oorsigbesoek aan die Korrektiewe sentrum in 2023 is aangedui dat ‘n nuwe kontrakteur toe in Augustus 2023 aangestel sou word. Siphamandla Nyembe van Departement Openbare Werke en Infrastruktuur het op navraag van Gazette gesê die beëindiging van die vorige kontrakteur se rekening het egter langer as verwag geneem om afgehandel te word.

Gevolglik is die tender eers in September 2023 geadverteer, en die proses van evaluering van aansoeke vir ‘n nuwe kontrakteur eers teen November 2023 voltooi. Die nuwe kontrakteur is in Desember 2023 aangestel, en sy konstruksiepermit in Januarie vanjaar uitgereik.

Die 18 maande projek moet nou teen Augustus 2025 voltooi wees.
Die sloering van die bouprojek het enorme logistieke uitdagings en koste vir die Departement Korrektiewe Dienste gebring, met die vervoer van gevangenes en personeel na naburige fasiliteite.

Boonop plaas dit bykomende druk op reeds vol korrektiewe fasiliteite, en het die gemeenskap by herhaling kommer uitgespreek oor die toename van misdaad in die omgewing met die bouprojek wat nie voltooi kom nie.

Seitloho het met sy besoek die naweek ook verwys na soortgelyk projekte soos die SAPS hoofkantoor by Telkom Towers in Pretoria wat onlangs onder dwang gesluit moes word, nadat naby ‘n R1 miljard glo spandeer is om die gebou te renoveer wat in 2015 vir R700 miljoen gekoop is.

Hy het benadruk dat in die lig van dié growwe pligsversuim die party vra vir ‘n volledige hersiening van die Departement van Openbare Werke en Infrakstruktuur se mandaat om hul eie geboue te bestuur.

Seitloho sê die ouditeur-generaal (OG) het lank gewaarsku dat die departement se eiendomsbestuurhandelsentiteit, wat as die waghond van die regering se onroerende bates optree, dienslewering ondermyn weens swak bestuur van staatseiendom. Hy sê die OG het die voortgesette vermorsing van belastingbetalers se geld op opknappings- en konstruksieprojekte by veral geboue wat dit nie regverdig nie, aangehaal as een van die redes waarom die entiteit in sy mandaat misluk het.

Michalakis sal spesifieke vrae aan die Minister van Justisie, Ronald Lamola, rig oor die addisionele kostes vir die pendel van personeel na naburige fasiliteite, die vervoer en besoekomstandighede van aangehoudenes wat belastingbetalers nog meer geld uit die sak jaag, en die uitwerking wat die sluiting van die fasiliteit op reeds oorvol tronke in naburige dorpe het.

Die proses wat in Parys gevolg is, is onlogies, en sal die nuwe kontrakteur, wat sover deeglike werk doen, verskeie werk van die vorige kontrakteur moet oordoen omdat dit as sub-standaard agterlaat is.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button