Local newsMotoringNews

Nuwe kontrakteur moet tronkprojek nou voltooi

Die sloering van die bouprojek by die Korrektiewe Dienste-sentrum in Parys, het enorme logistieke uitdagings en koste vir die Departement Korrektiewe Dienste gebring, met die vervoer van gevangenes en personeel na naburige fasiliteite. Boonop plaas dit bykomende druk op reeds vol korrektiewe fasiliteite.

Die bouprojek vir die vergroting en opknapping van die Parys Korrektiewe Sentrum is verlede week aan ‘n nuwe kontrakteur oorhandig. Dit volg nadat dié projek waarvoor R282 miljoen aanvanklik begroot was, vir maande stilgestaan het omdat die vorige kontrakteur se kontrak weens swak prestasie beeïndig is.

Die nasionale kommissaris van Korrektiewe Dienste, mnr. Samule Thbakgale en die Ngwathe uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, het die korrektiewe sentrum op 28 Februarie besoek vir die oorhandiging van die kontrak.

Die nuwe generasie fasiliteit sal met voltooiing van die projek 266 beddens hê, teenoor die 84 beddens wat die ou korrektiewe sentrum gehad het, het Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die Departement Korrektiewe Dienste gesê. Met die oorhandiging van die kontrak is verwys na die groeiende aantal gevangenes landwyd en die tekort aan korrekte sentrums.

In sy boodskap het kommissaris Thobakgale beklemtoon dat die Parys Korrekiewe sentrum ‘n toonbeeld is van ‘n belegging wat gemaak word in die modernisering van korrektiewe infrastruktuur, en het hy spesifiek verwys na die gevorderde veiligheidstelsel by die korrektiewe sentrum en rehabilitasieprogramme wat aangebied sal word. Hy het bygevoeg die ontwerp dra by tot ‘n veiliger sentrum.
Beamptes van die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur het ook die oorhandigingseremonie bygewoon asook verteenwoordigers van die Development Bank of Southern Africa. Beide het hul vertroue uitgespreek in die vermoë en kundigheid van die nuwe kontrakteur wat die projek moet voltooi, het Nxumalo gesê.

Volgens Nxumalo sal die nuwe korrektiewe sentrum en restorasie van die ou bestaande sentrum, verseker dat ‘n einde gebring word aan oorvol korrektiewe sentrums en bydra tot beter bestuur van die land se gevangenes bevolking. Daarmee saam verseker dit ook beter omstandighede waarin gevangenes aangehou word.

Op ‘n vraag van Gazette oor waarom die kontrakteur nie reeds in Augustus 2023 aangestel is soos wat met die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Sihle Zikalala se oorsigbesoek verlede jaar aan die Korrektiewe sentrum aangedui is nie, het Siphamandla Nyembe van Departement Openbare Werke en Infrastruktuur gesê die beëindiging van die vorige kontrakteur se rekening het langer as verwag geneem om afgehandel te word. Die tender is daarom eers in September 2023 geadverteer, en het in Oktober gesluit.
Die proses van evaluering van aansoeke vir ‘n nuwe kontrakteur kon toe eers begin, en is teen November 2023 voltooi.

Die kontrakteur is daarna in Desember 2023 aangestel, en sy konstruksiepermit deur Deparment Arbeid in Januarie vanjaar uitgereik.
Die 18 maande projek moet teen Augustus 2025 voltooi wees.

Vroeër is gesê kontantvloei probleme van die vorige kontrakteur wat die Korrektiewe Dienste-sentrum in Parys moes vergroot en opgradeer, was die hoofrede waarom konstruksiewerk nie binne die vyf jaar kontraktermyn voltooi is nie. Die situasie is deur Covid vererger.

Die sloering van die bouprojek by die Korrektiewe Dienste-sentrum in Parys, het enorme logistieke uitdagings en koste vir die Departement Korrektiewe Dienste gebring, met die vervoer van gevangenes en personeel na naburige fasiliteite. Boonop plaas dit bykomende druk op reeds vol korrektiewe fasiliteite.

Die nuwe generasie fasiliteit sou met voltooiing van die projek ook voorsiening maak vir ‘n mediese fasiliteit, onderrig- en opleidingsfasiliteite, ‘n sokkerveld, en gesofistikeerde sekuriteitselsel met ‘n sentrale beheerkamer, is met die minister se vroeëre besoek gesê.

Die projek is in Desember 2018 aan NJR Projects (wat later hul naam verander het na die G5 Group) toegeken teen ‘n bedrag van R282 miljoen.

In Februarie 2019 is die bouperseel aan die vorige kontrakteur oorhandig, en moes die 36 maande kontrak teen April 2023 voltooi wees. In Februarie 2023 is die kontrak egter met G5 beeïndig weens swak prestasie. Luidens ‘n verslag was die projek toe net 55% voltooi met die kontraktermyn wat al byna verstryk het. Van die toegekende kontrakkoste is R130 879 446,811 toe reeds spandeer.

Hoewel baie van die werk deur die vorige kontrakteur gedoen is, was dit met die minister se besoek al duidelik dat skade aan die halfklaar geboue wat in wind en weer gestaan het, te wagte is.

Related Articles

Back to top button