Local newsNews

Skikking nodig om tegniese direkteur se dienste te eindig

Verbruikers in die Ngwathe Munisipaliteit gaan al vir maande onder ernstige diensleweringsprobleme gebuk veral wat betref water- en kragvoorsiening wat deur die munisipaliteit se tegniese departement hanteer moet word.

Die Ngwathe Raad het verlede week tydens ‘n spesiale sitting uiteindelik voorstelle aanvaar vir  ‘n skikking om die direkteur Tegniese Dienste se dienstermyn te beeïndig. Dit nadat mnr. T. Malunga sedert September 2023 nie op kantoor is nie, maar steeds sy volle salaris ontvang.

Die fiasko in die munsipaltieit se belangrikste diensleweringsdepartement sloer al maande na die tugverhoor-verleentheid na mnr. Malunga se  tydelike skorsing oor klagte wat verband gehou het met pligsversuim, en versuim om wettige opdragte uit te voer.

‘n Onafhanklike ondersoeker wat die geldigheid van die klagtes teen mnr. Malunga moes ondersoek, het in Junie 2023 in sy terugvoerverslag tydens ‘n spesiale raadsitting, aangedui dat daar gronde is vir vervolging en moes die tugverhoor binne drie maande afgehandel word, In September 2023 het die raad egter gehoor dat die tugverhoor nooit kon plaasvind nie, omdat die getuienisleier en aanklaer nie sy mandaat kon uitvoer nie weens ‘n gebrek aan samewerking van getuies.

Die gevolg was dat mnr. Malunga in September 2023 terug was by die werk waar hy aangeval is, volgens ‘n item in die raadsnotule.
Daarna was hy nog nie weer op kantoor nie, omdat hy aangedui het dat hy vrees vir sy veiligheid by die werk.

Mnr. Malunga is op 1 November 2020 deur die raad vir ‘n vyf jaar termyn aangestel. Sy kontraktermyn verstryk eers op 30 Oktober 2025. Met 20 maande van die kontraktermyn wat nog oor is, het die raad nou besluit dat die Uitvoerende Burgemeester, die burgemeesterskomiteelede vir korporatiewe dienste en finansies, rdl. Philip van der Merwe, en die waarnemende munsipale bestuurder, namens die raad ‘n skikkingsooreenkoms vir die beeindiging van sy dienstermyn met mnr. Malunga en sy regsverteenwoordigers moet beding. Rdl. Van der Merwe het egter reeds aangedui dat hy nie die aanstelling in die komitee kan aanvaar nie weens siekte.

Die komitee sal moet onderhandel oor hoe die skikkingsbedrag wat voorgestel is, aan mnr. Malunga oorbetaal sal word.

Die raad het ook besluit dat sodra ‘n skikkingsooreenkoms geteken is, ‘n aanstelling uit die tegniese departement gemaak moet word om in die pos as direkteur waar te neem, en dat die pos onmiddelik geadverteer moet word.

Verbruikers in die Ngwathe Munisipaliteit gaan al vir maande onder ernstige diensleweringsprobleme gebuk veral wat betref water- en kragvoorsiening wat deur die munisipaliteit se tegniese departement hanteer moet word.

Hoewel mnr. Phele wat hoof van watervoorsiening is met mnr. Malunga se aanvanklike skorsing hangende die ondersoek teen hom as direkteur van die departement waargeneem het, kon daar na die tugverhoor verleentheid nie weer ‘n waarnemende direkteur aangestel word nie omdat mnr. Malunga steeds die pos as direkteur beklee.

Gazette het in Desember en Januarie berig oor een van Ngwathe se bestuurders in die finans departement, mnr. Themba Mpindo wat ‘n klag van aanranding gelê het teen ‘n werknemer van Ngwathe toe hy verhinder is om die munisipale kantore binne te gaan. Hy is steeds nie terug op kantoor nie nadat hy na die voorval ook nie daarin kon slaag om toegang tot die munisipale gebou te kry nie. Mpindo het vandeesweek weer aan Gazette bevestig dat hy nog geen verduideliking van Ngwathe se senior bestuur kon kry oor die rede waarom hy toegang geweier word nie. Nog minder enige kennisgewing van ondersoek teen hom wat die optrede kon regverdig.

Related Articles

Back to top button