Local newsNews

Lekkerkry-kwadraat een somersaand by die Kaalvoet Kafee

Wat ‘n heerlike volronde gebeurtenis was dit nie! Maak seker jy loop nie die volgende ene mis nie.

Die wêreld van 2024 is mallemeule-deurmekaar, ‘n woeste wilde gejaag na wind! Stel jou dus die
volgende prentjie voor: Sononder na ‘n warm somersdag, ‘n koel windjie steek op, jy sit op ‘n breë
ou plaasstoep met die heerlike romantiese klanke van Alabama Dream in die agtergrond. Jy teug
aan jou glas rooiwyn terwyl jy in die verte tuur en jou siel kans gee om jou lyf in te haal. Héérlik
verkwiklik …salig!

Dit was die ongeveer 50 gaste se belewenis toe hulle opgedaag het vir Tom op Toast se optrede.
Jestus Fouche, digter van Parys, het die program afgeskop. As oudpolisiekaptein gee sy gedigte ‘n
onverbloemde blik op die lewe van ‘n geregsdienaar en die donker wêreld van die misdadiger. Jestus
se digbundels is beskikbaar by Die BoekStop in Parys.

Toast Coetzer, wat baie van ons ook ken uit pragtige artikels en foto’s in die Weg tydskrif, en Tom
Dreyer, digter met ‘n wonderlike taalgevoeligheid en liriese aanvoeling, het ‘n “roadtrip” van die
Kaap tot in Pretoria onderneem en was gaste gelukkig genoeg om op die padkaart te land.

Toast het gedeeltes uit sy bundel “Last days of beautiful” voorgedra. Hierdie bundel is in 2018 in samewerking met “The Buckfever Underground” opgeneem.

Hieronder is ‘n blik van die talent wat gehoor is:

SIT DIT AF – gedeelte uit Toast se gelyknamige gedig
is jy ook gatvol vir als wat jou foon jou bied
van hoe dit jou per twiet herwaarts hiet
en verniet gebied, jou gedagtes giet
per Google-georkestreerde order van debiet?

Tom het gedigte uit sy bundels “Nou in Infrarooi” en “Kodachrome” voorgedra.

SLAAP JY SOLANK, DAN HOU EK DIE FORT
vir jaco botha (1972-2016)

ek verstaan my tjom my tjom slaap jy solank want die nag
is lank en die son sal basically forever oor magersfontein verrys
intussen sal ek nog vir ‘n rukkie dié kant die fort probeer hou
solank ek nog onthou solank ek nog onthou solank

Wat ‘n heerlike volronde gebeurtenis was dit nie! Maak seker jy loop nie die volgende ene mis nie.

Related Articles

Back to top button