Local newsNews

Kanoklublede help met slaai en hiasinte op die Vaal

As rioolstorting nie aangespreek word en hier vinnig plan gemaak word nie, veg ons 'n verlore stryd, het kenners al by herhaling gewaarsku oor die Vaalrivier se waterslaai en hiasinte krisis.

Lede van die Likkewaan-kanoklub in Parys het Donderdag, 29 Februarie, gehelp om groot hoeveelhede waterslaai en waterhiasinte by die klub te verwyder.

‘n Tou met dryf ‘noodles’ is gebruik om die waterslaai nader te trek na die oewer, vertel Saal de Jager. Dit is dan met skepnette en met die hand uitgehaal. “Indien ons dit nie gedoen het nie, sal die beplande kanopolo kampioenskap volgende naweek nie kan plaasvind nie,” het hy gesê.

Likkewaankanoklub-voorsitter JP Pienaar besig om die trektou om die hiasinte en waterslaai te span
Likkewaan-kanoklublede wat vandeesweek van die waterslaai en hiasinte uit die Vaalrivier gehaal het.

Verskeie pogings is die afgelope maand ook deur ander instansies en individue aangewend om die waterslaai en hiasinte met die hand te verwyder, maar daar is ernstige kommer dat die oormatige groei van dié plante op die Vaalrivier kan lei tot ‘n reeks ekologiese probleme, insluitend die verstikking van ander waterplante en kan dit die lewensvatbaarheid van ander waterdiere negatief beïnvloed. Dit kan ook waterpompe aan die rivieroewer verstop en skade aan boere se toerusting veroorsaak, afgesien van die implikasie wat dit vir vele toerisme-aktiwiteite op die Vaalrivier inhou. Die Vaal se waterslaai en hiasinte probleem word reeds as ‘n nasionale krisis beskryf deur kenners soos prof Anthony Turton.

Een van die waterslaai plante kan tot vyf lote uitstoot wat beteken dat die plante elke drie weke kan vervyfdubbel. Die plant is giftig en is as agressiewe indringerplant geklassifiseer.

Bespuiting van Glufosaat op die Vaalrivier om die krisis aan te spreek, is vroeër wyd gekritiseer en het die ministers van  die Departemente Waterwese en Sanitasie en Bosbou, Visserye en Omgewingsake in ‘n gesamentlike verklaring op 17 Februarie aangedui dat alle betrokke partye ooreengekom het om die metodes wat tot dusver gevolg is om die toename van waterslaai en waterhiasinte op die Vaalrivier te stuit, eers in oënskou te neem, om seker te maak dit is in lyn met omgewingswetgewing.

Daar is toe gesê dat ‘n verklaring weer uitgereik sou word oor die pad vorentoe.

Rand Water het vroeër bekendgemaak dat ‘n integrale benadering tot die krisis gevolg word wat ook biologiese beheer insluit in samewerking met die Rhodes Sentrum vir Biologiese beheer. Van die insekte wat gebruik word vir die biologiese beheer is reeds losgelaat in die Vaalrivier.

Save the Vaal Environment, Vaal Rivier Rats SA en ander orginasies en kundiges het  egter gewys op die ernstige impak wat munisipaliteite se voortdurende rioolstorting op die waterslaai-krisis in die Vaalrivier het, en dat sou die storting nie aangespreek word nie, ‘n verlore stryd gestry word met die Vaal se waterslaai en hiasinte.

Andrew Surtees van Vaal River Rats SA het vandeesweek weer gewaarsku oor die reuse finansiële verliese wat die krisis vir toerisme langs die Vaalrivier kan inhou, en vra hy hoe lank die regering gaan wag om ingrypend op te tree voordat die krisis handuit ruk.

“Miljarde is op die spel. Dit is net ‘n kwessie van tyd voordat die regering sal moet besef dat die krisis buite beheer raak” het Surtees gesê.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button