Local newsNews

Duisende kruise in Vredefort se strate verwag

Dié keer verwag hulle 3 000 mense wat op 29 Maart die 3 km Kruistog-sirkelroete deur Vredefort se strate sal stap

By die Dinamika-gemeente in Vredefort is dit die ene bedrywigheid op die Vrydagmiddag. Om die tafels is kinder- en ouerhande besig om die een na die ander blom uit plastiek te vou.

Duisende blomme word weer uit plastiek gevou vir die vlotte vir die Kruistog.

Drie jaar gelede is vir die kruisvlot 44 000 blomme gevou. Nou is nog meer blomme nodig, want dit is weer dié tyd van die jaar wanneer dié Vrystaatse dorpie sy hart oopmaak, en sy strate regmaak vir mense om ‘n Via Dolorosa-ervaring hier in die hart van die Vredefort Koepel op Paasfees te beleef.

Iemand het eendag gesê in die middel van die tydlyn van ons aardse geskiedenis is daar ‘n kruis, en alles voor die kruis het vorentoe daarna verwys – en alles na die kruis, verwys terug daarna. Dit is waarom die gemeenskap van Vredefort vanjaar vir die derde jaar die besondere Kruistog hou. Dié keer verwag hulle 3 000 mense wat op 29 Maart die 3 km Kruistog-sirkelroete deur Vredefort se strate sal stap – elk met ‘n kruis. Selfgemaak, of as jy nie ‘n kruis het nie – kom kry een hier.

Vroegdag sal daar by die dorp se sportgronde bymekaar gekom word vir die voorprogram met lofprysing en aanbidding vanaf 10:30 saam met plaaslike kunstenaars soos Lizette Combrinck, Richann Brüssow en Andreas D’Alebout. Daarna word ‘n kruisformasie gevorm en ‘n hommeltuigfoto geneem – iets besonders as jy kyk na die lugfoto van die 2 400 Kruistoggangers wat verlede jaar die klein dorpie se strate volgemaak het.

Die nagmaal sal dan bedien word waarna mense die Kruistog-roete sal stap wat begin en eindig by die sportgronde. Die kruistog duur ongeveer ‘n uur vanaf 12:00 die middag tot 13:00. Die roete word teen ‘n gematigde pas gestap en is so dat oud en jonk gemaklik kan saamstap. Daar is ook voertuie beskikbaar vir mense wat nie kans sien om die roete te stap nie.

Die foto’s is met ‘n vorige Kruistog in Vredefort geneem. 

Langs die roete sien jy uitbeeldings van die lewe en bediening van Jesus, en voorstellings van Sy gelykenisse.

Boere rondom Vredefort stuur jaar na jaar hul sleepwaens dorp toe sodat die verskillende stasies langs die roete op dié sleepwaens uitgebeeld kan word, en dit duidelik sigbaar kan wees tydens die massa-optog.

Hierdie jaar se vlot wat aan die voorpunt van die optog sal wees, stel die wederkoms voor, en dit is hiervoor wat die duisende plastiese blomme gevou word.

Beide die vlot wat verlede jaar die leë grafkelder van Jesus op Opstandingsondag uitgebeeld het, en die nuwe vlot, sal deur trekkers aan die voorpunt van die konvooi gesleep word

Hierdie is ‘n gemeenskapsprojek. Gratis vir enigeen om by te woon en aan deel te neem. Daar is ook ‘n gratis aandenking vir elkeen wat die Kruistog meegemaak het om jou te herinner aan dit waaroor Paasfees gaan.

Al waarvoor jy sal betaal is as jy die kosstalletjies by die sportterrein wil ondersteun.Voorsiening word gemaak vir ‘n beskermde area waar mense teen ‘n fooitjie hul kinders met gemoedsrus onder toesig kan los terwyl jy deelneem aan die massa-optog. Daar sal ook ‘n spesiale kinderprogram aangebied word en gaan die kinders hul eie kruise maak.

Die Kruistog is ‘n projek van die gemeenskap van Vredefort, maar dit is meer as wat jy op 29 Maart met die Kruistog in Vredefort sal beleef. Dit is ‘n dorpsopheffingsprojek, want vir die volgende maand sal daar soos die vorige jare gewerskaf word om die dorp skoon en netjies te maak.

Die sportgronde word weer onder hande geneem – gras gesny, geverf en mooi gemaak. Daar is planne om die naambord van die sportgronde op sy plek te kry. En dan is daar die kloktoringhorlosie by die NG Kerk in die dorp wat dié gemeenskap weer aan die loop wil kry. Lamppale en randstene moet geverf word. Die dorp se tennisbane kort aandag.

Elke jaar dié tyd vat die gemeenskap en die munisipaliteit hande. Niemand hoef gesoebat te word nie. Mense bied spontaan hulp aan. Vou ure lank aan die plastiekblomme, help mooimaak en regmaak, want hulle wil van Paasfees ‘n spesiale belewenis maak.

Omdat die hele projek gratis aangebied word, maak die organiseerders staat op eie fondse, borge en skenkings vir alle uitgawes. Maar daar is ook hande nodig om te help, en as jy nie kan help nie, borg jou tuinhulp of ‘n werker om vir ‘n paar uur of ‘n tydperk te kom help as daar mooigemaak en skoongemaak word onder toesig. Bring jou kreatiwiteit en kom help met die voorstellings op die sleepwaens, of om kruise te maak vir hulle wat nie het nie. Gesels met Juan Greeff by 079 874 1860 as jy wil help met die voorstellings langs die roete. Daar is soveel geleentheid om betrokke te wees of te gee.

Gesels met Paul Joubert by 071 116 1755 as jy wil help met die vlotbouery. Mense wat wil hulp aanbied met die dorp se skoonmaak en verfraaiing kan Johann Bloem by 083 626 8103, of Adolf Greeff by 083 419 7369 skakel.

Hou ook die Kruistog-webblad dop by www.kruistog.co.za, of stuur ‘n e-pos na info@kruistog.co.za, of WhatsApp na 079 874 1860 as jy meer wil weet oor die Kruistog, betrokke wil wees of wil bydra.

Maar die belangrikste is – nooi jou familie, jou vriende en kom beleef die boodskap van Paasfees op 29 Maart op ‘n besondere manier in Vredefort se strate.

Related Articles

Back to top button