Local newsNews

Baie geleer met ossewa se oortrek

Vir kampeerders bied Udolpho se ossewakamp ‘n belewenis van in die natuur-wees met net die nodigste geriewe en maak jy hier kos in die veldkombuis.

Die eerste van vyftien ossewaens in die ossewa-kamp by die FAK se Udolpho Rivierplaas is Saterdag met ‘n splinternuwe ripstop seil oorgetrek. Die seil is heelwat ligter wat minder las op die wakappe plaas.

Dit is water- en winddig, en hael en son bestand. Boonop het die seil ‘n langer lewensduur as die ou, swaar seile, en kan die ‘vensters’ in die seil van binne oopmaak. Omdat die materiaal ligter is, sal die ossewa nou heelwat koeler wees binne, en kan die ritssluiters selfs met ‘n slot vasgesluit word.

Jaco Jansen en Alta Pretorius oorhandig die sleutel van die waseil aan Jan-Danie en Anneke Malan van Udolpho.

Die FAK het in 2022 die ossewaens vanaf die ossewa-kamp by Clarens na Udolpho geskuif. Sedertdien is die ossewaens wat eintlik transportwaens was, ‘n gewilde en unieke akkommodasiefasiliteit op Udolpho.

Om ‘n wa oor te trek kos R12 500, maar met die hulp van Canvas Clinic se Jaco Jansen en Alta Pretorius, wat ook deel is van die Vaal Kultuurnetwerk, is die groot verbetering moontlik gemaak, en die taak om die ou seil af te haal en die nuwe te span, binne twee ure Saterdag afgehandel.

Jaco en Alta het met die oortrek van die ossewa-seil hul kennis en wenke gedeel sodat mense kon leer hoe om die kuns te bemeester. Danksy hul fyn beplanning pas die ossewaseil soos ‘n handskoen sodat die wa gesleep kan word sonder dat die seil teen die wiele skuur.

Die oorblywende ossewa-seile sal vervang word soos wat fondse beskkbaar is.

Die ossewa-kamp storie:
Ollie Esplin, wat die ossewa-kamp op Clarens bedryf het, vertel dat die kampstorie oorspronklik by sy skoonpa, Gerhard Wille, begin het. Hy was ‘n veteraan trekkerversamelaar wat soos wat hy rondgegaan het op plase, ossewaens aangekoop het waar hy ook al een sou teëkom.

In die laat tagtigerjare het hy op sy wildsplaas en saaiboerdery op die plaas Hoekfontein in die Ficksburg-distrik, begin om agt van die waens wat hy oor tyd bymekaar gemaak het, in ‘n laer te trek en te verhuur as akkommodasie. In die waens wat eintlik transportwaens is, kan tussen vier en agt persone slaap, en is daar selfs ’n “wittebrood-wa”.

Die waens het letterlik van oor die land gekom – een van hulle is een van net drie wat dateer uit die 1800’s wat nog bestaan, nadat meeste ossewaens tydens die Anglo Boere-oorlog aan die brand gesteek is.

Die res van die waens dateer meestal uit die vroeë 1900’s en word die waens in die kamp ook gelys in ‘n boek van prof. Erik Holm.

Die presiese datum waarop elke wa gebou is, die wa-maker se naam en die plek vanwaar die wa afkomstig is, is op elke wa gegrafeer en is sigbaar wanneer die wa se linkervoorwiel afgehaal word.

Die ossewa-kamp by Ficksburg was destyds so gewild dat Wille se skoonseun, Olie, wat ‘n avontuur toerisme onderneming in Clarens bedryf, in 2006/7 ‘n soortgelyke kamp daar begin het met agt waens. Toe Wille se plaas verkoop is, is die laaste waens ook na Clarens geskuif.

Wille is in 2021 aan kanker oorlede. Hy was ‘n man wat ‘n passie gehad het vir die toerismebedryf en wat bekend was vir sy besondere gasvryheid.

Oor die jare was die ossewa-kamp by Clarens eweneens baie gewild, veral onder skoolgroepe en kampeerders. Dit is sover bekend die grootste ossewa-kamp wat akkommodasiegeriewe bied en boonop ’n unieke kampervaring weens die historiese waarde daarvan.

Vir kampeerders bied dit ‘n belewenis van in die natuur-wees met net die nodigste geriewe en maak jy hier kos in die veldkombuis.

Related Articles

Back to top button