Local newsNews

Parys se bekende hangbrug en eilande in die Vaalrivier

Hierdie bekende historiese brug is onlangs mooi opgeknap en herstel en is oor jare een van die dorp se grootste toeriste-aantreklikhede.

Parys se bekende staal hangbrug oor die Vaalrivier is  in 1919 ingewy om as voetpad te dien na Gholfeiland.

Hierdie bekende historiese brug is onlangs mooi opgeknap en herstel en is oor jare een van die dorp se grootste toeriste-aantreklikhede.

Eilande in die Vaalrivier

Die prag dorpie Parys is in 1876 gestig.

Die Vaalrivier vorm die grens tussen die destydse Transvaal en Vrystaat.

In die Vaalrivier is ‘n menigte eilande – party groot, party piepklein.

Die talle eilande het grenskwessies veroorsaak en groot onsekerhede oor besitreg.

Aan wie het hierdie eilande behoort?

Die eilande is beskou as niemandsland waar burgers gaan skuil as hul opgeroep word vir diens, waar skelms gaan wegkruip, waar gesteelde goedere versteek word, en waar selfs melkkoeie aangehou is.

Mei 1885 word ñ Eilande Kommissie aangestel om ñ oplossing te vind vir hierdie kopseer. Om fuksionele sowel as finansiële redes.

Hierdie kommissie het die eilande tussen Lindequesdrif en Christiana genommer, gelys en opgedeel tussen die 2 provinsies.

Daar was ongeveer 200 eilande.

Maart 1895 word die Vaalriviereilande Traktaat deur die Transvaal en die Vrystaat onderteken.

101 eilande van ongeveer 372 hektaar word aan die Transvaal toegeken.

94 eilande van ongeveer 266 hektaar aan die Vrystaat.

Die rivieroewers sal die grenslyne vorm.

Die lyn van jurisdiksie sal die hoofstroom wees, soos bepaal deur landmeters.

Sketskaarte is opgestel.

Waar daar onsekerheid was oor die hoofstroom het Paul Kruger voorgestel dat ñ leë bottel met ñ kurkprop in die rivier gegooi word en sodoende is die hoofstroom bepaal.

Die 3 grootste eilande is

  1. Groot Eiland No 13. Ongeveer 154 hektaar.

Aan Transvaal toegeken. Tans huisves dit die Vaal de Grace Golf Estate.

2. Golfeiland of Hangeiland no 11. Ongeveer 42, 8 hektaar. Aan Vrystaat toegeken. Huisves die Parys Golf and Country Estate.

3. Degraafseiland no14, naby Rensburgdrif. Ongeveer 43 hektaar. Eiland behoort aan die Departement van Sport, Kuns en Kultuur.

Eiland nr 11

Golfeiland/Hangeiland

Parys Golf Club is in 1913 gestig en’n 9 putjie gholfbaan is op die eiland gevestig. Die eiland was bekend as Golf Island.

Die beplanning was dat Golfeiland as ‘n ontspanning en vermaaklikheidsoord ontwikkel sou word.

Hangbrug

1918 is die hangbrug na die Gholfeiland gebou. Dit is in 1919 ingewy.

Die brug is gebou van draad en staal met kabels waaraan 3 “spanne” hang, een hoof ‘span’ en 2 sy ‘spanne’.

Die enkel-hangbrug verbind die dorp Parys met  Golfeiland en die eiland het spoedig ook as Hangeiland bekend geraak.

Voetgangers het oor hierdie hangbrug na die eiland gestap en heerlike piekniektye en ontspantye is op die eiland deurgebring.

Hangeiland was ‘n gewilde piekniekplek.

Sondagskool piekniek op Hangeiland was ‘n hoogtepunt vir die kinders.

Onder die koeltebome het gesinne ontspan, lekker visgevang en uitgelate kinders kon baljaar en swem in die rivier,  of op die groot klippe in die rivier speel.

Tans net nog ‘n herinnering onder ouer garde.

Parys Golf & Country Estate

Golfeiland huisves tans ‘n 18 putjie gholfbaan en ‘n luukse woonkompleks.

Die gholfbaan is herontwerp en die oorspronklike gholfbaan is onherkenbaar. 2007 is hierdie gholfbaan weer heropen.

Ryk voëllewe, die rustige natuur, veranderende gesig van die rivier en pragtige ou treurwilgers kan op die eiland gesien word.

Ongelukkig moes die hangbrug aan die eiland se kant gesluit word ter wille van veiligheid. Die rooi deur verhoed vrye toegang tot die eiland. Dit verhoed kwaadwillige rondlopers op die eiland en ook gholfspelers wat gou-gou skelm ñ paar putjies gholf wou gaan speel het. Geen piekniek vir Parysenaars word meer toegelaat op die eiland nie of ongemagtigde gebruik van die landgoed se fasiliteite nie.

Daar is 2 streng veiligheidsingange na die eiland met 24-uur sekuriteit en gereelde patrollies om die inwoners van die landgoed te beskerm en veiligheid te verseker.

Restoureer

Die hangbrug moes al dikwels in die verlede herstel en opgeknap word.

1967 is die verweerde houtplanke met staalplate vervang. Dit was ñ waaghalsige taak aangedurf deur vrywilligers met geen vrees vir hoogtes nie. Ouer inwoners onthou nog hoe waaghalse onderstebo gehang het om hierdie plate onder vas te sweis.

Gekke en dwase skryf op mure en glase.

Onder hierdie graffiti gekke moes die hangbrug ook al ñ paar keer deurloop.

Skrootdiewe dra ook maklik van die staalstawe weg vir ñ skamele paar sente.

Hierdie groot toeriste aantreklikheid het later jare baie verwaardloos geraak en het dringend aandag nodig gehad.

Danksy die dryfkrag van’n Parys inwoner, Stephanie Fourie, en die ondersteuning, oop hande en hardwerkenheid van ‘n paar sakemanne, vriende van die hangbrug en inwoners van Parys en omgewing is die hangbrug  netjies herstel en opgeknap.

Die terrein is skoongemaak.

Die slaggate in die pad is toegemaak.

Die straatname en padmerke oorgeverf.

Die brug is geverf.

Die los metaalplate op die brug weer vasgemaak.

Veiligheidsdraad is vervang.

Die skade wat deur vloedwaters aangerig is, is herstel.

Die spore en skade van vandale ook weer herstel.

Teen groot koste uit vrywilligers se sakke is al hierdie herstelwerk aangepak en voltooi en nou pronk hierdie historiese Hangbrug weer in volle glorie.

Slotte

Vir jare lank is slotte orals aan die hangbrug gehang om verskeie redes:

Paartjies wat trou aan mekaar belowe, herinnering aan’n spesiale mens of gebeurtenis, nagedagtenis aan ‘n afgestorwene of net ñ herinnering…Ek was daar…

Baie slotte met name en datums opgeskryf.

Honderde slotte was orals aan die draad en kabels vasgesluit.

Die gewig van die massa slotte was kommerwekkend.

Die gehawende toestand van die draad weerskante van die brug was ook nie baie veilig vir voetgangers oor die brug nie.

Die span wat betrokke was by die herstel en verfraaiing van die hangbrug het begin om die draad te vervang.

Uiteraard moes die slotte ook saam met die gehawende draad verwyder word.

Aanvanklik is net die ou en geroeste slotte verwyder, maar toe is besef dat al die slotte verwyder sal moet word sodat die draad weerskante  vervang kan word.

Die eerste klompie slotte wat verwyder is, sowat ‘n kwart van die slotte, het ñ allemintige 205 kg geweeg.

Amptelike toestemming is verkry en die reuse taak is aangepak om al die slotte te knip. (2023)

Die slotte is vir ñ paar weke gebêre sodat dit opgeëis kan word.

Die oorblywende slotte gaan in ñ unieke kunswerk omskep word wat by die hangbrug te sien sal wees. Dit word gemaak deur ñ plaaslike kunstenaar, Joggie Kotze, van die Man van Staal Kunsgaley.

Einde 2023 is ñ reuse raam spesiaal langs die hangbrug opgerig, Mur de Souvenirs, waaraan slotte nou gehang kan word.

Slotte wat in die toekoms aan die brug self gehang word, sal verwyder word.

Daar is ook nou ‘n groot fotoraam waar jy ‘n kiekie kan neem met die hangbrug in die agtergrond.

Dankie vir elkeen betrokke by hierdie reuse poging.

Bronne: Internet, Facebook, Parys Inligting, Parys Gazette.

Foto’s: Parys Gazette. Gys Ströh Snr Des 2023.

Samesteller Kobie Ströh

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button