NewsNews

Myn eersdaags op weidingsgrond

Goud gaan binnekort gemyn word op ’n plaas wat die regering aan die Tlokwe-munisipaliteit in die stad gegee het om weiding vir kleinskaalveeboere te verskaf. Abram Marumole van die maatskappy Programme for Community Development (PCD), ook bekend as Eleazer Gold Mine Pty Ltd, het vandeesweek bevestig die maatskappy is reeds besig met voorbereidende werk om op die plaas te myn. “Ons het al die regte prosedures gevolg.”

Goud gaan binnekort gemyn word op ’n plaas wat die regering aan die Tlokwe-munisipaliteit in die stad gegee het om weiding vir kleinskaalveeboere te verskaf.
Abram Marumole van die maatskappy Programme for Community Development (PCD), ook bekend as Eleazer Gold Mine Pty Ltd, het vandeesweek bevestig die maatskappy is reeds besig met voorbereidende werk om op die plaas te myn. “Ons het al die regte prosedures gevolg.”
Met Herald se besoek aan die terrein op die Eleazer-plaas sowat 30 km buite Potchefstroom, was mense met masjinerie aan die werskaf en het groot hope grond op die terrein gelê.
Willem Coetzee, ’n Potchefstroomse prokureur, het bevestig hy is betrokke by die opstel van ’n ooreenkoms tussen Tlokwe, PCD en nog ’n maatskappy, Rhythm of the Nation (RoN), wat ook mynregte op die grond verkry het.
Die doel met die ooreenkoms is om die gebruik van die grond te reguleer omdat dit aan Tlokwe behoort, het Coetzee gesê.
Tlokwe het die plaas in 2009 van die departement van landelike ontwikkeling en grondsake gekry.
Willie Maphosa, woordvoerder van die Tlokwe-munisipaliteit, sê daar word wel geboer op ’n gedeelte van die plaas waar nie gemyn word nie.
Maphosa het egter gesê die munisipaliteit het bedenkinge of die regte prosedures gevolg is met die toeken van die mynlisensies, onder meer omdat daar glo nie behoorlike prosesse van openbare deelname of omgewingsimpakstudies was nie.
“Ons prokureurs gee aandag hieraan.”
Hans-Jurie Moolman, DA-koukusleier in die Tlokwe-munisipaliteit, is beswaard omdat die raad glo nie behoorlik insae in omgewingsimpakstudies en die aansoek om mynregte gehad het nie. “Die mynbedrywighede sal ook plaasvind naby gebiede waar dolomietsteen naby aan die oppervlak lê. Die onttrekking van grondwater hier verhoog gevolglik die risiko vir die vorming van sinkgate. Sulke gevare behoort aandag te kry as deel van die mynmaatskappy se omgewingsgoedkeuring.”
Moolman eis nou antwoorde van die munisipaliteit oor onder meer die mate waartoe die Potchefstroom-gemeenskap by die openbare deelname-proses betrek is en of ‘n geotegniese ondersoek gedoen is na die risiko van sinkgatvorming.Volgens Maphosa word dolomietgevare wel in omgewingsverslae gemeld, maar is daar nie voldoende besonderhede oor ’n geotegniese ondersoek om die dolomietrisikos behoorlik in ag te neem nie. Hy het ontken dat die Tlokwe-raad nie behoorlik oor die kwessie ingelig word nie en sê dit word gereeld op raadsvergaderings bespreek.
Naudé Pienaar, adjunk-hoofbestuurder van Agri Noordwes, sê ook dié organisasie is besig om dokumente van die departement van minerale bronne te kry om vas te stel of die regte prosedures gevolg is.
“Volgens die boere in die omgewing is hulle nooit behoorlik gekonsulteer nie. Die baie stof weens mynbedrywighede besoedel hul water en weiding. Die grondpad na die plase is nie voldoende om die volumes swaar mynbouverkeer te dra nie.”
Ayanda Shezi, woordvoerder van die departement van minerale hulpbronne, het bevestig goudmynregte is in Januarie 2015 vir ‘n tydperk van 20 jaar aan Programme for Community Development (PCD) toegestaan.
“Volgens ons inligting is die nodige konsultasieproses gevolg. Ons het ná klagtes van omliggende boere oor die stof op 12 Julie vanjaar met hulle vergader en ’n forum gestig waar die klagtes hanteer sal word.”
Volgens Karabo Lomko, mynkonsultant vir Rhythm of the Nation (RoN), het dié maatskappy al die regte prosedures gevolg om ’n mynlisensie te kry, maar het hulle nog nie begin myn nie omdat hulle wag op hul beleggers. Herald het ’n afskrif van RoN se mynlisensie, maar Shezi kon teen druktyd nie meer besonderhede verskaf oor haar departement se papierspoor van die prosedures wat gevolg is met die toeken daarvan nie.

Related Articles

Back to top button