Local newsNews

Ses Vrystaatse leerders sterf in tragiese ongeluk

Ons innige medelye met die families van hierdie kinders. "Kom ons hou hierdie skool in ons gebede."

‘n Busongeluk op die R70 naby Ventersburg, het laat vanmiddag, Dinsdag 6 Februarie die lewens van ses hoërskooldogters van die Hoërskool Riebeeckstad ge-eis.

Die kinders was van Moolmanshoek per bus na Riebeeckstad in Welkom onderweg, toe die ongeluk sowat 30km buite Ventersburg op die Ventersburg/Senekal-pad gebeur het.

Die kantoor van die Vrystaatse premier by monde van Palesa Chubisi, het in ‘n verklaring net voor 21:00 Dinsdagaand die ongeluk bevestig, en die Vrystaatse premier, Mxolisi Dukwana se hartseer oor die tragedie uitgespreek.

Sowat 58 dogters was in die bus, nadat hulle vroeër die dag ‘n buitelug sportgeleentheid vir dogters bygewoon het.

Die ses dogters wat noodlottig beseer is, is op die ongelukstoneel dood verklaar.

Veertig dogters is lig beseer, agt het nie-ernstige beserings opgedoen, en vier is ernstig beseer.

Die dogters is per ambulans na verskeie hospitale in Welkom en Senekal vervoer.

Die tragiese ongeluk volg nadat die sukses van die matriekklas van 2023 gevier is, het die premierskantoor gesê.

“Ek het nie woorde nie, en kan my net indink watter hartseer hierdie families beleef. My opregte medelye aan die families. Ek wens die beseerdes spoedige herstel toe, is in die verklaring namens die Vrystaatse premier,  gesê.

  • Nooddienste was met die skryf van die berig steeds op die toneel.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button