BlogsOpinions

Uit my dagboek: Nuwe pa: Slaap as jy moeg is

Deesdae lyk dit of Aiden slaap saam met al die ander minder lekker dinge in die lewe groepeer. Dinge soos medisyne drink of groente eet.

Deesdae lyk dit of Aiden slaap saam met al die ander minder lekker dinge in die lewe groepeer.
Dinge soos medisyne drink of groente eet. My vrou is die afgelope tyd baie siek, griep soos in die ou dae. Die gevolg hiervan is dus dat dit die naweek weer net pappa en boeta was, terwyl my vrou probeer om haarself weer gesond te rus. Alles is rustig. Ons speel lekker, eet lekkergoed en speel nog so ‘n bietjie, maar net na middagete begin die probleme. Hoe sê hulle, magies vol ogies toe? Dit werk met my so, maar duidelik nie met my kind nie. Ek sit saam met hom op die mat en kyk hoe hy byna aan die slaap raak, maar elke keer ruk hy sy oë oop om net nog ’n bietjie te speel.
Hy het so ver gegaan om ’n matras uit sy kas te gaan haal om op te lê, maar nie om op te slaap nie. Elke keer as ek dink hy is nou so vaak dat hy nie nog ’n sekonde langer sal kan uithou nie, gaan sit ek hom in die bed.
Ek is nog nie eens by die kamer uit nie, dan begin die benoude skree, wat net stil raak as hy weer nog bietjie kan speel.
Tog word selfs die speel afgewissel met kort uitbarstings van huil. Almal verseker my as kinders so optree, is hulle moeg. My vraag is nou: as hy so moeg is hoekom, slaap hy nie?
Hoekom dan nog wil wakker bly? Hoekom dan nog vir pappa uit die slaap hou? Gaan slaap net my kind. Iemand het eendag gesê jeug is vermors op die jonges. Ek is geneig om met die stelling saam te stem. Aiden weet nog nie hoe kosbaar ’n middagslapie is nie. Teen die tyd wat hy besef hoe lekker dit is, is dit te laat, dan kan hy dit nie geniet soos hy dit behoort te geniet nie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button