Local newsNews

Daar is veel meer te lees in die swaai van n perd se stert

In geval van nood wanneer dit tyd kan neem vir 'n veearts om by 'n perd te kom, is basiese kennis van noodhulp vir perde juis van onskatbare waarde.

‘n Perd se oë, die beweging van sy stert, dermklanke, harttempo, temperatuur, sy ore, die kleur van sy tandvleis, speeksel, en sy gedrag verklap baie van ‘n perd se gesondheid. Daarom is die gereelde versorging van jou perd veel belangriker as om net sy hoewe skoon te maak, of om hom te roskam.

Dit is dan wanneer jy aan jou perd moet vat, en moet let op tekens van ‘n moontlike onderliggende kwaal.

Dr. Marleece Jordaan, wat as veearts in private praktyk by DatariusVet tussen Potchefstroom en Parys praktiseer, het onlangs waardevolle kennis gedeel oor basiese noodhulp vir perde by die Edenvale Equestrian Yard.

In geval van nood wanneer dit tyd kan neem vir ‘n veearts om by ‘n perd te kom, is basiese kennis van noodhulp vir perde juis van onskatbare waarde.

Dr. Marleece het beklemtoon dat jy as eienaar jou perd die beste ken, en sal weet wanneer daar iets is wat jy nie voorheen by jou perd opgemerk het nie.

‘n Noodgeval word gewoonlik gesien as wanneer dit lewensgevaarlik vir jou perd is, of ‘n besering of siekte kan maak dat die perd nie sy funksie kan verrig nie.

Wanneer jy jou perd versorg kyk na sy temperatuur. Volwasse perde se temperatuur wissel tussen 37 en 38,5 grade. Deur gereeld jou perd se temperatuur te neem kan jy baie maal n probleem op tel nog voordat ander simptome gesien kan word. Deur jou perd gewoond te maak daaraan om sy temperatuur te neem kan jy seker maak dat hy minder skrikkerig is wanneer ‘n veearts nodig het om sy temperatuur te neem, en weet jy watter temperatuur normaal is vir jou perd.

Dieselfde geld vir harttempo. Hou boek van temperatuur en harttempo, en kyk na sy asemhaling. Selfs die manier hoe jou perd in- en uitasem is belangrik.

Oefening en hitte asook angstigheid kan ‘n perd se harttempo beïnvloed.

Té lae temperatuur kan moontlik dui op skok.
Té bleek, té rooi, geel of blou tandvleis kan ‘n aanduiding wees dat iets skort. Bleek tandvleise kan byvoorbeeld dui op spesifieke siektes terwyl droë tandvleis kan dui op dehidrasie. Kyk na jou perd se tandvleis elke keer as jy die stang in sy bek sit.

Wanneer jy drukking met jou vingerpunt op die tandvleis sit is die tydsduur vir die tandvleis om weer kleur te kry ‘n aanduiding van die gesondheid van ‘n perd se hart en are.

Oë wat traan of as daar etter is, kan weer op ander ongesteldhede dui.

Die afgelope twee weke is met die baie reën byvoorbeeld heelwat allergieë gesien, het dr Marleece gesê.

Luister na jou perd se dermklanke en kyk na sy stert. ‘n Perd se stert gee belangrike inligting veral oor pyn en angstigheid.

Wanneer daar diarree is, sal jy tekens daarvan onder die stert sien. Mense moet ook nou veral kyk vir bosluise met die reën, is haar raad.

‘n Bietjie water by ‘n perd se neus is normaal maar die kleur van die water is belangrik. Die water by sy neus moet nie dik wees nie, maar vloeibaar soos trane en geen kleur hê nie.
Wanneer gekyk word na ‘n perd se kondisie word ook gekyk na spierkondisie. Selfs ‘n perd wat nie gery word nie moet steeds spiermassa hê.

Wanneer ‘n perd geassesseer word, is dit belangrik om unieke raskenmerke in gedagte te hou, het dr. Marleece gesê.

Voel aan jou perd se bene en rug as jy hom versorg en voor jy opsaal. So kan jy weet as daar pyn of swelling is, of knoppe wat dalk nie voorheen daar was nie.

Selfs ‘n perd se hoewe gee ‘n duidelike aanduiding van die perd se gesondheid, hoewel seisoene en nat en droë weer ook ‘n rol speel.

‘n Gesonde perd se hare vertoon blink en glad selfs tydens “shedding season”.
Jou perd se lyf sal jou vertel as daar iets skort, en daarom moet jy seker maak jy ken jou perd.

Dr. Marleece het gewys hoe gekyk word na ‘n perd se gesondheid, en die basiese noodhulpwenke gedemonstreer. Sy het egter gewaarsku dat jou en jou perd se veiligheid altyd eerste prioriteit moet wees wanneer jy noodhulp moet toepas.

Interessante feite wat jy dalk nie van perde geweet het nie:
* Perde het nie ‘n galblaas nie.
* Perde kan nie braak nie as gevolg van die posisionering van sy maag.
* As ‘n perd verstik kan dit lewensgevaarlik wees en moet jy dadelik die hulp van ‘n veearts kry.
* Daar is verskeie tipes koliek by perde en is dit belangrik om wanneer ‘n perd koliek, dadelik die hulp van ‘n veearts te kry. Koors word gewoonlik nie geassosieer met koliek by perde nie.

Wat kan jy in jou noodhulpkassie byderhand hou
* termometer
* ⁠stetoskoop
* ⁠druk verband
* ⁠gaas deppers
* ⁠n pen en papier
* ‘n Skêr
* Vet wrap
* ⁠Plyster
* Allergex
* ⁠die nodige noodnommers

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button