Onder dié brug is skoongemaak
Daar is egter 'n meer permanente oplossing nodig en is daar 'n behoefte dat die munisipaliteit, gemeenskapsontwikkeling en die gemeenskap hande moet vat.
Danksy die oplettendheid van rdl. Selma Kok en die vinnige reaksie van die Ngwathe munisipaliteit, is daar verlede week skoongemaak onder die laagwaterbrug na Gholfeiland waar haweloses onooglike skuilings opgerig, en die omgewing bemors het. Net onder die waterwerke was daar selfs ‘n tydelike tentwoning opgerig.
Rdl. Kok het dit onder die aandag van die bywette beampte en Ngwathe se waarnemende direkteur van gemeenskapsdienste gebring.
Die volgende dag reeds het Nomsa Gibson, die munisipale bywette beampte, aandag aan die probleem gegee, en het sy en haar span die vullis en rommelmateriaal opgetel en verwyder.
Rdl. Kok sê daar is egter ‘n meer permanente oplossing nodig en is daar ‘n behoefte dat die munisipaliteit, gemeenskapsontwikkeling en die gemeenskap hande moet vat om die probleem met die groeinde aantal haweloses aan te spreek.



