Avbob Parys het tydens die groep se jaarlikse toekenningsgeleentheid wat by Sun City gehou is, met nie minder nie as drie spogtoekennings weggestap wat aan dié tak oorhandig is vir die 2022/2023 finansiële jaar.
Nie net was die Parys-tak die bes presterende tak in Kategorie C nie, maar ook die algehele wenner van al die kategorieë waarin Avbob-takke landwyd ingedeel is. Dit beteken dat Parys spog met die beste Avbob tak in die land.
Hierbenewens het Avbob Parys ook die toekenning ontvang vir die meeste private dienste (dienste waar kliënte nie begrafnispolisse het nie, maar privaat vir die diens betaal).
Takke word na gelang van grootte ingedeel in die onderskeie kategorieë. In Kategorie C alleen het 80 takke om die gesogte toekennings meegeding.
Volgens takbestuurder, Rodney Robinson wat sedert 2021 aan die stuur van Avbob Parys staan, is dit die eerste keer dat die Parys-tak ‘n toekenning ontvang.
Daar is veral na die groei van takke gekyk met die beoordeling vir die toekennings, en het van die kriteria ingesluit die totale begrafnisse hanteer, ouditverslae en wins behaal, netheid van die tak, diens en voertuiginspeksies.
Die tak het sewe personeellede.
Rodney is oorspronklik van Krugersdorp waar hy by Avbob in Johannesburg betrokke was. Sy oupa het ook vir jare by Avbob se hoofkantoor in Pretoria gewerk.
Hyself is ‘n kranige sportman wat vir die dorp se rugby- en rolbalklubs speel.



