News

204-getuies hoor Maandag

Die staat, verteenwoordig deur adv. Makabela, (wat ingestaan het vir adv. Mthetwa), het Dinsdag geen betoë gelewer nie, en gaan volstaan by Regter van Zyl se beslissing.

Regter Corné van Zyl sal Maandag in ‘n aanlyn uitspraak haar beslissing gee oor of die ses 204 getuies wat vir die staat getuig het in die uitmergelende hofstryd van meer as vier jaar na die dood van Tumelo Simon Jubeba en Samuel Tjixa, gevrywaar word van vervolging aldan nie.

Die 204-getuies, Fanie Oosthuizen, Muller van der Westhuizen, Wicus van der Westhuizen, Wian van der Westhuizen, Gawie Coetzer en Johan Oosthuizen was Dinsdag saam met twee van die destydse beskuldigdes, Anton en Cor Loggenberg, in die hof toe betoë voor regter Van Zyl gelewer is vir die ondersoek in terme van Artikel 204 van die Strafproseswet.

By getuies wat vir die staat getuig, geld die bepaling dat die getuienis openhartig en eerlik voor die hof sal wees, en behou die hof die reg voor tot vervolging as die getuies nie die hof in hul vertroue geneem het nie.

Die 204’s, met die uitsondering van Gawie Coetzer, is deur Johan le Grange verteenwoordig, nadat hul vorige regsverteenwoordiger, Jan Ellis, hom in Desember weens etiese redes van die saak onttrek het.

Le Grange het aan die begin van die hofverrigtinge aangevoer dat slegs die 204’s aan die ondersoekproses behoort deel te neem, waarop Dawie Reyneke wat vir Cor Loggenberg verskyn het, aangevoer het dat die 204 getuies, getuienisse teen die beskuldigdes gelewer het, en hul betoë daarom gehoor moet word. Regter van Zyl het Reyneke gelyk gegee.

Le Grange het toe aangevoer dat die 204-getuies eerlik en openlik in hul getuienis voor die hof was, en dat die beskuldigdes uiteindelik skuldig bevind is op grond van die 204-getuies se weergawe van die gebeure destyds op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik.

Reyneke het egter geargumenteer dat die 204-getuies se getuienis leuenagtig was, en dat hulle tydens die verhoor telkens hul eie deelname probeer versag of ontken het, terwyl hulle die beskuldigdes se aandeel probeer vergroot het. Hy het ook aangevoer dat die beskuldigdes uiteindelik op grond van hul eie weergawes skuldig bevind is omdat hulle oop kaarte met die hof gespeel het.

Regter van Zyl het na die betoë aangedui dat sy Maandag uitspraak sal gee. Die finale besluit sal egter by die staat berus om te vervolg aldan nie, sou regter Van Zyl nie die 204-getuies van vervolging vrywaar nie. Die staat, verteenwoordig deur adv. Makabela, (wat ingestaan het vir adv. Mthetwa), het Dinsdag geen betoë gelewer nie, en gaan volstaan by Regter van Zyl se beslissing.

Die staat het destyds aangevoer dat Boeta van der Westhuizen, sy seun Loedie jr., skoonseun Miela Janse van Vuuren, en Anton Loggenberg en sy seun, Cor, die oorledenes sodanig sou aangerand het, dat hul kort daarna aan hul beserings beswyk het in die Parys en Pelonomi-hospitale.

Tjixa en Jubeba is deur ‘n groep mans aangekeer na ‘n plaasaanval op Loedie van der Westhuizen sr. op die plaas Biesiesbult, nadat verskeie boere op die noodroep reageer het. Daar is met regter Van Zyl se uitspraak in 2020 pertinent verwys na die 204 getuienis, en het sy gesê dat hul getuienis soortgelyk was, en hul mekaar in die hof weerspreek het. Ook dat dele in hul verklarings nie ooreengestem het nie.

Dit was uiteindelik die getuienis van ‘n afgetrede patoloog, prof. Jan Botha, wat vir die verdediging getuig het wat die staat se getuienis op sy kop gedraai het. Regter van Zyl het gesê prof. Botha se getuienis was onbetwisbaar, en was dit wat hy getuig het in skerp kontras met wat deur die 204 getuies gesê is.

Prof. Botha moes sy getuienis suiwer baseer op die nadoodse verslae, foto’s en ander getuienis wat toe reeds voor die hof gehou was, en was dit uit sy getuienis duidelik dat die oorledenes kon sterf weens onvoldoende mediese hulp, en die ernstige beserings wat hul moontlik kon opdoen in hul reeds beseerde toestand toe hulle oor ruwe terrein van die plaas Swartklip met ‘n polisievangwa vervoer is om die ambulans langs die pad te ontmoet.

Regter Van Zyl het in Mei 2020 die mans wat aangekla was, skuldig bevind aan aanranding, terwyl Loedie ook skuldig bevind is aan ‘n klag van regsverydeling.

Boeta van der Westhuizen, Loedie van der Westhuizen en Miela Janse van Vuuren, het vroeër deur hul prokureurs, en by monde van Dawie Reyneke wat vir hul prokureurs ingestaan het, op rekord laat plaas dat hulle nie wil voortgaan met die proses vir die 204-ondersoek nie, en is verskoon van verdere hofbywoning.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button