Local newsNews

Water of te nie – dit blom!

Jy moet mooi kyk en voel om te weet wat is eg, lag sy.

Somer of winter. Dit blom in die tuin van Nicole Begué in Schilbachstraat. Helder, vrolike, somerkleure – geel, rooi, pienk en pers. Nie eens die droë krane of winter se ryp laat die blomme se koppe hang nie, want Nicole het plan gemaak om dit heeljaar in haar tuin te laat blom – van rose tot sonneblomme.

Sorgvuldig soek sy die kunsblomme uit op die aanlyn winkel, Shein, en plant hul dan tussen die regte blomme en plante in haar tuin. Jy moet mooi kyk en voel om te weet wat is eg, lag sy.

Die 75-jarige Nicole het in 1975 saam met haar man Suid-Afrika toe gekom waar albei by Yskor gewerk het. Afrika lê haar baie na aan die hart. Vir geen geld ter wêreld wil sy terug Frankryk toe nie, want dit is hier aan die suidpunt van Afrika waar haar wortels lê. Dié is my Afrika-kamer, wys sy, met prag skilderye van ‘n helderrooi Afrika-son teen die mure. Haar handewerk.

Sy’s lief vir blomme, gesels sy, en vertel dat die tuin haar tuinier se handewerk is. “Ek ‘s lief om orders te gee,” lag sy. Selfs die stoep staan vol potte blomme en in die huis ‘n pragtige roos.

Hier moet jy mooi kyk wat is kunsblomme en wat is die ware Jakob in Nicole Begué se kleurvolle tuin.

Naas die blommme in haar tuin, het sy ‘n groentetuin begin met tamaties en eiervrug. Nou wag sy vir die blaarslaai om op te kom.
Sy het nie ‘n boorgat nie, en vandaar haar plan met die kunsblomme wat sy so saam met die lente begin insit het. Bang vir aanlynkopies is sy nie, en laat lewer van medisyne en blomme tot kruideniersware op haar voorstoep af.

Net regs van haar motorhek is haar ‘feetjieland’. Rye en rye kabouters. En ook hier sien jy die kleurvolle blomme, want vir die kleurryke oumagrootjie is haar tuin haar trots.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button