Depressief – moet nie moed opgee nie, daar is hulp
Voel jy nie jou ou-self nie? Jy sukkel met min dryfkrag en lyk die toekoms vir jou donker? Dalk voel dinge wat jy in die verlede maklik kon hanteer, nou veral oor die Feestyd vir jou soos ‘n berg, en voel jy soos ‘n mislukking? Hierdie gevoelens gaan nie weg nie en dit is nie vir jou moontlik om jouself ‘reg te ruk’ nie. Dalk voel jy dat jy in ‘n diep, donker gat is waaruit geen ontsnapping moontlik is nie? Die kans is goed dat jy moontlik depressief is.
DIe Suid-Afrikaaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) het gevind dat Suid-Afrikaners juis gedurende die feestyd hoër vlakke van stres en depressie ervaar. Selfdood is ook meer algemeen in Desember as die res van die jaar.
Na raming raak depressie meer as 300 miljoen mense wêreldwyd en daar word vermoed dat dit selfs soveel as 350 miljoen kan wees. Vrouens is meer geneig tot depressie, maar meer mans sterf as gevolg van selfdood.
Syfers het getoon dat daar in 2021 al jaarliks meer as 10 000 selfdoodgevalle in Suid-Afrika was, wat dikwels oor Desember en Januarie toeneem. Hoewel daar verskeie redes hiervoor is, is eensaamheid, mense wat pas deur ‘n egskeiding is, verlies aan ‘n geliefde, toenemende lewensdruk, trauma en skuld, maar enkele van die redes wat uitgewys is. Angs wat ervaar word kan lei tot depressie en ervaar mense soms in die feestyd dat hul geïsoleerd is.
Wat veral kommer wek, is dat tienerselfdood aan die toeneem is. Ongeveer 9% van alle tienersterftes is as gevolg van selfdood. In die 15-24 jaar ouderdomsgroep is selfdood die tweede grootste oorsaak van dood.
Daar is verslae van kinders so jonk as 6 jaar wat gesterf het as gevolg van selfdood.
Depressie affekteer ‘n persoon se gesin, werkslewe, slaap-en eetpatrone en algemene gesondheid. Dit is ook kommerwekkend dat ten spyte daarvan dat depressie in die meeste gevalle redelik maklik en suksesvol behandel kan word, meer as die helfte van mense wat wêreldwyd deur depressie geraak word, geen behandeling ontvang nie.
Hoe lyk depressie?
Aangesien daar nie ‘n mediese toets is om te bepaal of iemand depressief is of nie, is dit nodig om na simptome te kyk.
Vyf van die volgende agt simptome moet teenwoordig wees om ‘n diagnose van ‘major depressie’ te kan maak. Hierdie simptome moet minstens vir 14 dae aanmekaar teenwoordig wees, en verskil van die “normale” rouproses wat volg ná die verlies van ‘n geliefde.
* ‘n Bedrukte gemoed meeste van die tyd, amper elke dag
* Verminderde belangstellings en /of ervaring van plesier in alle of amper alle aktiwiteite, meeste van die tyd, amper elke dag
* Verandering in eetlus en gewig. Gewigsverlies sonder dat ‘n dieet gevolg word of gewigstoename, met ander woorde ‘n afname of toename in eetlus.
* Psigomotoriese traagheid of aggitasie
* Moegheid en lusteloosheid – verlies aan dryfkrag
* Gevoelens van waardeloosheid, selfverwyt en skuldgevoelens
* Gebrekkige konsentrasie, vergeetagtigheid en besluiteloosheid.
* Herhaalde gedagtes aan die dood en selfdoodgedagtes. Depressie is een van die hoofredes van selfdood, maar is ‘n siekte wat behandel kan word.
Om ‘n diagnose van depressie te bevestig, en vir verdere behandeling is dit belangrik om ‘n dokter, psigiater of kliniese sielkundige te besoek. Depressie kan behandel word met medikasie (anti-depressante) en terapie. Leefstyl aanpassings soos oefening, gesonde eetpatrone en streshantering kan ook waarde hê.
Indien jy of iemand naby aan jou depressief is en selfdoodgedagtes het, is hierdie belangike kontaknommers.
SADAG Suicide Helpline 0800 567 567
Cipla Mental Health Helpline 0800 456 780
SMS – 31393
WhatsApp (9:00-16:00) 076 882 2775
Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep se geestesgesondheidskrisislyn – 011 234 4837


