NewsNews

Volhoubare argitektuur in die Koepel op Witklipfontein bekyk

Die program van uitstappies gereël deur die Koepel Kunstesentrum op Deelfontein, in samewerking met die Vredefort Meteorietpark Bewarea, skop vir die tweede helfte van 2016 af met ’n tweede besigtiging van die modder-en-klip-bouwerk op die plaas Witklipfontein in die Vredefort Koepel.

Die program van uitstappies gereël deur die Koepel Kunstesentrum op Deelfontein, in samewerking met die Vredefort Meteorietpark Bewarea, skop vir die tweede helfte van 2016 af met ’n tweede besigtiging van die modder-en-klip-bouwerk op die plaas Witklipfontein in die Vredefort Koepel.
Hier word natuurlike boumateriale gebruik om opwindende en moderne strukture volgens die beginsels van volhoubare argitektuur op te rig.
Die argitekbroers Xavier en Damien Huyberechts pas ’n holistiese benadering toe, waarvolgens die geboue opties met die omgewing saamsmelt, die ontwerp die plaaslike klimaat vir passiewe verhitting en verkoeling gebruik, aan alle energiebehoeftes self voorsien word, en interessante oppervlakafwerkings van die natuurlike boustowwe ontwikkel word.
Op Saterdag 30 Julie om 10:00 is belangstellendes welkom om vir die tweede keer die bouwerk te besigtig, na die goed ondersteunde eerste geleentheid in September 2015. Verdere inligting is op die webwerf www.deelfontein.co.za verkrygbaar.
Na twee sterrekykgeleenthede in Junie, bied Frik le Roux op 6 Augustus en weer op 3 September sterrekykaande by Deelfontein se sterrewag aan. Die uitstappies begin om 19:00 met ’n aanbieding in die seminaarkamer langs die sterrewag.
Teen 20:30 is dit dan donker genoeg om met die 8-duim Newton-teleskoop die wonders van die naghemel te bekyk. Toegang van R50 per persoon word gehef om die onkostes van die aanbieder te dek.
In September bied Roger Gibson, professor in Geologie by die Universiteit van Wits en een van die deskundiges op die geologie van die Koepel, ’n  uitstappie aan. Deelnemers sal saam met Gibson op ‘n deel van die Meteorietstaproete loop, en hoor hoe die geologiese detail langs die pad in die groter prentjie van die onstaan van die unieke geologie van ons gebied inpas.
Die uitstappie in Oktober het ook geologie as onderwerp, maar konsentreer spesifiek op die goudmyne van die Koepel: Die geskiedenis en ook die myn- en ertsverwerkingsprosesse van daardie tyd. Die aanbieder is professor Frans Waanders van die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit. Hierdie is ‘n unieke geleentheid om van die meer indrukwekkende goudmyne in die Koepel te besigtig.
Die byeboer Peter Stegmann bied in November ‘n praatjie oor bye en byeboerdery aan. In die Koepel en groter omgewing is daar heelwat byeboere, beide kommersieel en informeel, wat ‘n belangrike bydrae tot die behoud van hierdie belangrike insekte maak. Interessante inligting oor bye in die algemeen, asook spesifieke raad aan byeboere wat parasiete, siektes, ‘n goeie jaarprogram, en praktiese wenke oor die oes en verwerking van heuning en was betref, sal gegee word.
Twee musiekprojekte vind op Deelfontein in die volgende maande plaas. Barokmusiek vir skuiftrompetensemble en basso continuo, gespeel op oorspronklike barokinstrumente, staan op die program van die eerste konsert. Dit bied ‘n unieke geleentheid om nie net hierdie besondere instrumente (die enigstes in die land) te hoor nie, maar ook die musiek wat daarmee saamgaan. In die tweede projek word kantates van Bach deur ‘n kamerkoor en barokorkes ingestudeer en uitgevoer.
Meer inligting sal in die Gazette en op die webwerf www.deelfontein.co.za bekendgemaak word. Deelnemers aan die uitstappies word gevra om by Gerhard Benade by 083 280 9784 of gerhard@deelfontein.co.za) aan te meld.

Related Articles

Back to top button