Rowers vat selfs Q20 en Halls in gewapende vulstasie-roof; skade groot
"Dit is net die gemeenskap van Parys wat ons staande hou," sê Anelique in groot dankbaarheid vir soveel mense wat hul na die voorval moed ingepraat, en hulp aangebied het.
Gewapende rowers het verlede week vir ‘n tweede keer in net meer as twee maande op die Viva-vulstasie in Parys se nywerheidsgebied toegeslaan. Enorme skade is aangerig toe die valkluis herhaaldelik met springstof geskiet is om dit oop te kry terwyl werknemers nog in die gebou was
Die rooftog het Donderdagoggend omstreeks 01:00 gebeur toe ses mans met handwapens en klapmusse die geriefswinkel binnegestorm het. Nog twee van hul makkers het buite in die veld gewag.
Naas die geld wat uit die valkluis en kasregisters gevat is, het die rowers hulle ook aan verskeie items in die winkel gehelp waaronder deodorant, Red Bull, kougom, seep, Nivea room, Q20 en selfs Halls suiglekkers.
Een van die winkelassistente kon daarin slaag om die paniekknoppie van Parys Sekuriteit te druk. ‘n Reaksielid het gou reageer en is rakelings gemis in die geweervuur toe die verdagtes wat in die veld gewag het, op die reaksievoertuig geskiet het. Volgens Coenraad de Jager van Parys Sekuriteit het ‘n koeël die deurraam van die voertuig getref.

Niemand is in die voorval of tydens die ontploffings in die geriefswinkel beseer nie, maar die skade beloop veel meer as die halfmiljoen wat dit gekos het om die skade van die vorige rooftog te herstel, het Pieter en Anelique Coetzer, eienaars van die vulstasie gesê. Dit afgesien van die trauma wat die misdaad vir hul werknemers veroorsaak. Met die vorige rooftog het tien swaar gewapende mans ook in die vroeë oggendure die geriefswinkel binne gestorm en twee keer probeer om die valkluis met springstof oop te skiet. Die mans het toe handwapens, ‘n R4 en gereedskap by hulle gehad, en hulself aan kontant uit die kasregisters gehelp. Verskeie items is ook van die winkelrakke gesteel. Hulle is nooit gevang nie.
Die skade van die eerste rooftog kon na ‘n rekord spanpoging binne 32 uur herstel word, maar dié keer is die strukturele skade enorm, sê Anelique. Dit so kort voordat konstruksiemaatskappye vir die Feestyd sluit. Soveel veiligheidsmaatreëls is juis na die vorige gewapende roof ingestel, maar dit was duidelik dat die rowers hulle deur niks sou laat stuit nie.
“Dit kos geld om ‘n vulstasie te bedryf. Vir twee maande is daar al nie water nie en moet dit ten duurste aangery word. En dan gebeur goed soos hierdie.”
Die dak van die joggiekamer en ‘n gedeelte van die geriefswinkel se dak is in die ontploffings beskadig. Van die yskaste se motors het skade, en is die skade aan die gebou, selfs in die kantore sigbaar. Van die voorraad wat agter die kasregisters gehou is, is beskadig. So ook elektroniese toestelle soos rekenaars, drukkers en die kasregisters.

“Jy betaal huur en versekering vir die valkluis, en wanneer dit beskadig word, is jy verantwoordelik om dit teen ‘n groot koste te vervang,” sê Angelique.
Selfs van die lugversorgers het skade.
“Dit is net die gemeenskap van Parys wat ons staande hou,” sê Anelique in groot dankbaarheid vir soveel mense wat hul na die voorval moed ingepraat, en hulp aangebied het.
Sy en Pieter sê in besonder dankie aan Parys Sekuriteit, die SAPD, Parys Medics se Debbie Prinsloo en Peet Harmse, vriende wat hulle op die toneel kom help en bygestaan het, Wouter en Natasha Croeser, en tannie Marbeth en seun, Nico, vir hul hulp met die skoonmaak.



