Local newsNews

Meer as ‘n miljoen se verliese oor krag

Verliese vir besighede in Parys is enorm nadat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit vir drie weke nie daarin kon slaag om voortdurende kragprobleme in groot dele van die dorp te kon oplos nie

Checkers in die Pays Boulevard-sentrum in Buitenstraat het verlede week alleen R1,5 miljoen verlies aan verkope gehad weens knaende munisipale kragonderbrekings buiten Eskom beurtkrag. Daarbenewens moes ‘n verdere R1 miljoen spandeer word aan ‘n rugsteun kragopwekker net om die winkeldeure te kan oop hou met die urelange kragonderbrekings, en onvoldoende kragvoorsiening deur Ngwathe, veral in die sakekern wat veroorsaak het dat toerusting wat met 3-fase krag werk, nie kon werk nie.

Om die kragopwekker aan die loop te hou het Checkers verlede week vir die vyf dae R150 000 aan diesel uit die sak gejaag.

Verliese vir besighede in Parys is enorm nadat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit vir drie weke nie daarin kon slaag om die voortdurende kragprobleme in groot dele van die dorp te kon oplos nie. Hoewel die munisipaliteit se elektrisiëns oënskynlik hul bes probeer het, is die gebrek aan kabelvoorraad en koppelings, ‘n groot struikelblok wat veroorsaak dat dit ure neem om aandag aan al die probleme te gee. Telefoonnommers om kragprobleme te raporteer word dikwles nie beantwoord nie, en ervare hande is selfs minder na die dood van twee van die munisipaliteit se elektrisiëns vroeër vanjaar.

By 2-Ling Vleis Mark in Dolfstraat is vir weke voorberei vir ‘Black Friday’ om seker te maak daar sou genoeg voorraad wees, maar was die slaghuis se omset minder as 50% van wat in ander jare gemiddeld op die inkopie stormloop ingebring is. Dit weens die knaende kragprobleme en misdaad, veral tydens beurtkrag.

“Ons moed is in ons skoene. Hulle het net skade gebring. Dit sal jare neem om van die terugslag te herstel.” sê Jessica en Maxie Kleynhans, eienaars van die slaghuis.

Tussen 10 en 26 November het hulle net 30 uur se Eskom/Ngwathe krag gehad.

Die meeste van die slaghuis se toerusting werk met 3-fase krag wat beteken dat sou kragvoorsiening onvoldoende wees, noodkragopwekkers heeldag lank moet loop om net van die toerusting aan die gang te hou. Daar moes daagliks 70 liter se diesel gekoop word om die yskaste, vrieskaste en een koelkamer aan te hou. Die perseel het sowat ses weke gelede laas water gehad en moet elke dag 2 500 liter water gekoop word. Selfs vullisverwydering moet hul daagliks self doen.

Hul skade en verlies van die afgelope drie weke is na raming byna R170 000.

Die aand van 10 November is die slaghuis se koelkamers se koperpype gesteel, en moes R47 000 se vleis weggegooi word. Op 12 November is weer voorraad gekoop, maar ‘n dag later is daar deur die dak van die slaghuis ingebreek en al die drade wat die yskaste, koelkamers en vrieskaste aanhou, geknip. So ook die drade van die sekuriteitskameras.

Daar is ‘n tweede keer gepoog om die koperpype van die kompressors te steel. Die inbreker is op heterdaad in die slaghuis betrap, maar die verliese wat die oggend van 13 November ontdek is, was ‘n verdere R38 000 se voorraad wat van kant gemaak moes word.

Beide voorvalle was gedurende beurtkrag, en is kragtoevoer in Dolfstraat daarna nie weer herstel nie. Die munisipaliteit het die kragtoevoer na Dolfstraat eers Saterdag, 25 November herstel, maar Woensdagoggend is daar weer koperdrade gesteel.

Jessica en Maxie is dankbaar teenoor Searl en Lorna Sacks wat ‘n koelkamer beskikbaar gestel het vir die slaghuis en vir die raadslede, Marinda Matthysen-Engelbrecht en Saal de Jager, vir hul volgehoue pogings om te probeer om antwoorde te soek. Geen hulp kon van munisipale amptenare gekry word nie, sê hulle.

Nie eens ‘n 3-fase noodkragopwekker kan ‘n onderneming soos hierdie vir dae aaneen ten volle dra nie, hoewel dit minstens een koelkamer aanhou.

Aqua Win, ‘n onderneming wat gebottelde water in Parys verkoop, het verlede week tussen Maandag en Woensdag R15 000 se skade gelei toe twee pompe en ‘n yskas skade gekry het, weens die dorp se kragprobleme.

Benewens woongedeeltes wat vir ure en dae aaneen sonder krag moes klaarkom, was die Parys Golf & Country Estate verlede week vyf dae sonder krag, na ‘n probleem verlede Maandag by ‘n elektriese kabel ontstaan het. Die probleem is eers Vrydagoggend, 24 November herstel, sê Mike Fourie, uitvoerende voorsitter van die Parys Golf & Country Estate.

Hy sê die landgoed-personeel het die munisipaliteit ondersteun so goed hul kan om die probleem te herstel deur self die kabel oop te grou en gereedskap vir die herstel aan die munisipaliteit te leen. ‘n Kontrakteur moes egter gekry word om uit te wys waar die fout is.
Mike sê hulle het teen die Woensdag self gereël vir ‘n kontrakteur uit Meyerton om die assessering te doen, en kon die kabel toe herstel word.
Desondanks die uitdagings het jare se beurtkrag en uitdagings hulle leer planne maak en kon die gholfbaan se setperke koud gehou word met rivierwater.

Kragopwekkers het dag en nag geloop om water te pomp vir die landgoed wat sedert Julie 2022 al geen munisipale water kry nie.Gelukkig het baie residensiële eiendom op die landgoed reeds voorsiening gemaak vir alternatiewe kragvoorsiening, sê Mike.

* Gazette het self herhaaldelik terugvoer oor die voortlepende kragprobleme gevra en is telkens belowe dat aandag gegee word aan die probleme.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button