Local newsNews

Sy nalatenskap is groot vir die dorp waarin hy geglo het

Hy was 'n saamdoen-mens. Iemand wat in môre geglo het. Iemand wat 81 jaar voluit geleef het en diep spore laat in baie harte.

Daar was twee dinge wat uitgestaan het van Hannes Koekemoer – sy onwrikbare geloof in die vermoëns van jongmense, en sy lewensfilosofie om nooit op te gee nie – ongeag struikelblokke op jou pad. ‘n Merkwaardige sakeman, sportman, vriend en familiemens, wat potensiaal in Parys gesien het, om uiteindelik ‘n groot nalatenskap vir die dorp en sy mense agter te laat.

Hannes is verlede week, op 21 November, in die ouderdom van 81 jaar na meer as ‘n week in die intensiewe sorgeenheid van die Milpark-hospitaal aan subdurale haematoma oorlede.

Hannes se lewensverhaal het op die Koedoeslaagte-familieplaas in die hart van die Vredefort Koepel begin waar hy op 30 September 1942 gebore is. Hy matrikuleer in Virginia, en studeer daarna mynbou ingenieurswese by Wits. Sy loopbaan neem hom na verskeie dorpe en stede oor die land waaronder ook die Richtersveld.

In 1982 neem hy ‘n geloofstreë en koop op ‘n bankrot veiling die Sunnyside Hosiery fabriek. Die fabriek was destyds langs Vanslab in die nywerheidsgebied van Parys waar die Tumahole Selfhelp Association for the Disabled later sou vestig.

Met ‘n onwrikbare geloof om ‘n sukses van die fabriek te maak, begin hy en vyf werkers ‘n dag na die veiling om sykouse in die fabriek te vervaardig. Die tagtigerjare was die begin van ‘n dans-era en kort voor lank is ook ‘tights’ en ‘leotards’ in die fabriek gemaak. Daarna het fietsryklere gevolg wat sedert 1985/86 in die fabriek vervaardig is onder die handelsname Anatomic en Cyclone.
Produksie het teen ‘n snelle pas gegroei, en koop hy in 1999 die Arwa-geboue in die nywerheidsgebied van Parys wat toe al ‘n geruime tyd leeg gestaan het.

Oor die jare het die bankrot fabriek wat Hannes destyds gekoop het, gegroei tot ‘n suksesverhaal met sowat 100 werkers saam met die bestuur wat vandag deel is van Silhouette Sportswear-span wat hoofsaaklik fietsry- en drafklere vervaardig.

Hannes se betrokkenheid by die vervaardiging van fietsryklere was meer as net ‘n beroep – dit was ‘n passie wat hy self geleef het. Hy was mal oor fietsry. Op 42-jarige ouderdom begin hy die eerste keer fietsry, en het nooit opgehou nie. Kort voor sy dood het hy nog saam met sy seun, Attie, gery. Hy het 33 Arugusse voltooi, en drie en twintig 94.7 fietsrenne. Hy het deelgeneem aan beide padfiets- en bergfietsrenne, en begin ook die gewilde Crater Cruise en Houtkapper-fietsrenne in Parys.

As sakeman en kranige sportman was hy betrokke by die borg en organisering van verskeie fietsrenne oor die land, waarvan die grootste Parys se Crater Cruise was wat in 2004 begin is, en tot voor Covid jaarliks aangebied is.

Nog ‘n baie gewilde bergfietsren wat deur die familie in Parys begin is, was die Southern Skies 24-hours Bergfietsren.

Hannes was oor die jare by die fabriek se hoofkantoor in Johannesburg, maar het twee tot drie keer ‘n week Parys toe gekom – ‘n dorp wat hom baie na aan die hart gelê het.

Hannes en Vera

Gedurende Covid-19 inperking, volg ‘n tweede geloofstreë en droom – die vestiging van die Koedoeslaagte Trail Park op Hannes se geboortegrond in die Koepel-natuurprag waar mense kan stap en fietsry. Dit is hier waar hy graag naweke tyd spandeer het.
Na jare in Johannesburg vestig hy en Vera hulle sowat ses maande gelede permanent in Parys waar hul jongste seun, Attie, sedert 2019, en dogter Ursula sedert 2020 gevestig is.

Dit was vir hom ‘n groot hartswens om Koedoeslaagte te deel met ander, veral die laaste drie jaar. Hy het ongekende vreugde daarin gevind om te sien hoe mense die natuur in die reservaat geniet

so het baie Hannes geken. Op sy plaas, met sy plaashoed en ‘n koppie koffie in die hand.

Oor jare het sy pad met baie gekruis in die besigheidswêreld, maar ook op die land se paaie waar hy fiets gery het.

Hy was ‘n saamdoen-mens. Iemand wat in môre geglo het. Iemand wat 81 jaar voluit geleef het en diep spore laat in baie harte.

Daar word tot siens gesê vir Hannes, Dinsdag 28 November om 11:30 by Koedoeslaagte Trail Park & Venue waar die lewe van ‘n merkwaardige man gevier sal word. Enigeen wat ‘n laaste eer aan Hannes wil bewys is welkom om die geleentheid by te woon.

Hannes sal met die mooiste herinneringe onthou word deur Vera, met wie hy 58 jaar lank getroud was, sy seuns, Dirk en Attie, dogter Ursula, ses kleinkinders en broer, Lourens.

Related Articles

Back to top button