Onwettige goudhandel: Polisie slaan toe op huis in Parys
Hoof van die Valke in die Vrystaat, majoor-generaal Mokgadi Bokaba, waarsku - ons het oë en ore oral

Lede van die polisie se ondersoekeenheid vir ernstige georganiseerde misdaad in Welkom, tesame met ‘n prioriteits misdaad ondersoekspan van die Valke, Openbare Orde Polisielede en lede van Protea Coin Sekuriteit, het na ‘n uitgebreide ondersoek drie mans in Parys hegtenis geneem vir die beweerde onwettige handel in goud.
Volgens die Valke se provinsiale woordvoerder, lt. kol. Zweli Mohobeleli is inligting opgevolg oor die beweerde optrede waarmee goud geruil is vir kontant oor die provinsiegrense van die Vrystaat en Gauteng. Hy sê ondersoekers het hul oë op ‘n huis in Parys gehad waar die beweerde onwettige aktiwiteite sou plaasgevind het.
Daar is daarin geslaag om ‘n deursoekings- en beslagleggingslasbrief te kry, en het wetstoepassers vroeg Vrydagoggend, 24 November, toegeslaan op die huis waar beslag gelê is op onbewerkte goud met ‘n geraamde waarde van R3 miljoen, en ongeveer R4 miljoen se kontant.
Daar is ook op vier voertuie beslag gelê het Mohobeleli gesê.
“Die arrestasie dien as ‘n waarskuwing aan misdadigers dat die polisie oë en ore oral het. Daar is nêrens om heen te vlug nie,” het die hoof van die Valke in die Vrystaat, majoor-generaal Mokgadi Bokaba na die arrestasie gesê Hy het die arrestasie verwelkom en dit as ‘n deurbraak bestempel in die samewerking en die deel van inligting oor provinsiegrense heen.
“Ons misie is om onwettige mynbedrywighede en misdaad wat daarmee saam gaan, uit te roei,” het hy gesê.



