Local newsNews

Planne met yster in boorgatwater

Boorgateienaars, veral in die westedorp van Parys is vertroud met die roesbruin vlekke teen sementheinings en mure soos wat die boorgatwater uit besproeiingstelsels dit vlek. Sommige het die fout gemaak om hul nuwe, skoon grondwater direk in die huis te gebruik – net om met gevlekte wasgoed op te eindig. Of dalk het jy jou …

Boorgateienaars, veral in die westedorp van Parys is vertroud met die roesbruin vlekke teen sementheinings en mure soos wat die boorgatwater uit besproeiingstelsels dit vlek. Sommige het die fout gemaak om hul nuwe, skoon grondwater direk in die huis te gebruik – net om met gevlekte wasgoed op te eindig. Of dalk het jy jou swembad met booratwater opgevul, en nou sukkel jy met ‘n rooibruin skynsel. Dit is alles te danke aan die opgeloste yster in die water. Nie alle boorgate het opgeloste yster in nie, wat vreemd is. Daar is gate in Parys met silwerskoon grondwater (behalwe vir ‘n skadelose kalkerigheid). Die meeste gate, veral in die westelike deel waar die primêre sandakwifeer voorkom, sukkel egter met yster. Die yster is hoofsaaklik afkomstig van die plaatmineraal biotiet wat die klein, swart spikkels in graniet is. Wanneer graniet verweer, vorm die silika kristalle sandkorrels, en die velspaat en biotiet verweer na klei en vorm opgeloste ione soos yster en magnesium in die grondwater.

Die feit dat die yster opgelos is, beteken dat dit skoon uit die boorgat kom en dwarsdeur ‘n filter gaan beweeg – net soos wat ‘n mens nie soutkristalle in opgeloste soutwater gaan sien nie, en dit nog steeds sout gaan smaak al filtreer jy dit. Dit maak dus nie sin om jou grondwater direk uit die boorgat deur ‘n filter te pomp nie.

Gelukkig reageer die yster vinnig wanneer dit met suurstof in aanraking kom – dit is hoekom die mure en heinings so vinnig verkleur. Die opgeloste yster oksideer en slaan uit wanneer dit met suurstof verbind, en wanneer die water verdamp, bly die yster as roesvlekke agter. Dit is ook die rede hoekom die boorgatwater – al lyk dit aanvanklik skoon, die wasgoed bruin vlek nadat dit ‘n dag of wat in die tenk gestaan het. Jy moet dus die water eers kans gee om te oksideer in ‘n tenk voor jy dit filtreer.

Die meeste van ons is vertroud met die twee- of drie fase blou waterfiltreerders, en het dit reeds geïnstalleer om die vuil munisipale water te suiwer. Dit moet egter ná die tenk en drukpomp geïnstalleer wees om effektief te werk om te keer dat jou wasgoed vlek.

Jy gaan egter elke 3-4 maande filters vervang as jy baie yster in jou boorgat het, wat die koste op die lang duur kan opjaag.
Ek stel voor jy laat eerder ‘n sandfilter installeer ná jou drukpomp. Dit gaan die groot meerderheid ysterpartikels wat in jou tenk uitgeslaan het opvang vóór dit jou finale filters verstop. Die voordeel is natuurlik dat jy die sandfilter gereeld kan uitspoel (backwash) om van die yster ontslae te raak.

My sandfilter voor die res van die filters. 

As jy nog steeds ‘n blou filtersisteem het, gaan dit die leeftyd van jou vervangbare filters aansienlik verleng, maar die kwaliteit behoort goed genoeg te wees vir huishoudelike gebruik met nét ‘n sandfilter.

Waar ek vroeër elke kwartaal moes filters vervang wat dik aangepak was met ysterklei, kon ek nou meer as ‘n jaar gaan met gereelde uitspoel van die sandfilter. Ek spoel myne ten minste een keer per week, maar soms meer gereeld omdat ek baie water aan bure verskaf. Die water waarmee ek my swembad opvul is dus ook reeds gefiltreer om seker te maak die yster slaan nie in die swembad eers uit nie.Gewone lugaanraking is voldoende om yster te laat uitslaan, maar die proses kan bespoedig word.

Laat die water wat jou tenk opvul bietjie sproei om meer suurstofkontak te verseker.

Yster in die uitspoelwater uit die sandfilter.

My gewone 5 micron filter na meer as ‘n jaar se gebruik met die sandfilter.

Dan kan ‘n oksideermiddel soos waterstofperoksied of chloor ook gebruik word. Nie net sal dit help om potensiële kieme in die tenk dood te maak nie – dit versnel die oksidasie van yster.

Ek verkies waterstofperoksied wat afbreek na waterstof en suurstof, en dus veiliger as swembadchloor is wat flokkulante ook bevat, en op die langtermyn dalk newe-effekte kan hê. Moet egter nie te veel gebruik nie, want dit laat ‘n prominente smaak agter. Ek sal so nou en dan ‘n koppie 50% waterstofperoksied in my 5,000l tenk gooi. Verdun dit egter eers as voorsorgmaatreël omdat dit jou vel erg kan brand!

Dit is ook hoe ek dan sommer ‘n vinnige toets doen vir yster, sonder om die water eers laboratorium toe te stuur. Pomp ‘n bietjie skoon boorgatwater uit in ‘n helder glasfles, en voeg ‘n oksideermiddel soos ‘n teelepel peroksied of swembadchloor by. Laat staan vir ‘n paar minute en kyk of dit bruin word – dit is die yster wat uitslaan. Hoe minder yster, hoe helderder bly die water. Laat weet my gerus as jy ‘n boorgat het wat nie yster bevat nie, ek sal dit graag wil dokumenteer.

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/parys-gazette/news/news-news/2023/11/16/so-beskerm-jy-jou-boorgat/

https://www.citizen.co.za/parys-gazette/news/news-news/2023/11/09/boorgat-eienaarskap-die-impak-van-meer-boorgate-op-grondwaterbronne/

https://www.citizen.co.za/parys-gazette/news/2022/10/13/baie-vrae-oor-grondwater/

Johan Smit het sy graad in M.Sc Omgewingswetenskappe (Hidrologie en Geohidrologie) aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus verwerf. Hy is ‘n raadgewende hidrogeoloog van Parys, en is die afgelope bykans 20 jaar in die dorp gevestig. Johan kan geskakel word by 083 204 4674, of stuur e-pos na johan@tsunamiresources.com

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button