Local newsNews

Kragkrisis: Daar’s nie voertuie, kabelvoorraad of koppelstukke nie, hoor raadslede

Dit is die redes vir kraglose ure

Al het Parys vyf munisipale elektrisiëns is daar slegs een bakkie vir die elektriese afdeling beskikbaar, en een voertuig met ‘n hyserbak (cherry picker). Gevolglik neem dit ure voordat aan al die klagtes wat gerapporteer word, aandag gegee kan word. Dit terwyl huishoudings en besighede die afgelope weke daagliks sukkel met knaende kragonderbrekings weens Ngwathe se swak onderhoude kragnetwerk en gereelde kabeldiefstal, bo en behalwe daaglikse Eskom beurtkrag.

Vanoggend, Dinsdag 21 November, was dit vir die soveelste dag ‘n kraglose dag vir dele van Parys, met ‘n transformer by die dorp se watersuiweringsaanleg wat ontplof het na beurtkrag. Die dorp se sentrale sakekern en omliggende dele is geraak, bo en behalwe verskeie ander kragprobleme na Maandagaand se swaar weer en reën.

In Uniestraaat het  ‘n kragkabel wat gebrand het sedert Maandagaand regoor die kruising met Bredelstraat gelê. Dit is Maandagaand net voor 22:00 telefonies en per WhatsApp aan die munisipaliteit gerapporteer, maar eers net voor 13:00 Dinsdagmiddag herstel.

Die transformer by Parys se watersuiweringsaanleg wat vanoggend ontplof het na beurtkrag

Die gebrek aan voertuie is net van die ontstellende leemtes in veral Parys se krag- en wateradministrasie wat verlede week aan die lig gekom het toe raadslede deur  Ngwathe se uitvoerende burgemeester Victoria de Beer-Nthombeni op kort kennisgewing byeen geroep is vir ‘n spesiale raadsvergadering.

DA-raadslid Arnold Schoonwinkel sê skokfeite is aan raadslede ontbloot. Só byvoorbeeld  het ‘n senior elektrisiën gekla dat elektriese kabel nou byna elke nag tydens beurtkrag gesteel word (en verlede week selfs helder oordag), Hy het bygevoeg dat Ngwathe byna geen kabel in voorraad hou nie, en ook geen koppelstukke vir kabels nie.

Raadslede is ook ingelig dat sonkragpanele wat deur sekere onbekwame agente in Tumahole installeer is, krag terugvoer in die munisipale netwerk, wat uiters gevaarlik  vir munisipale tegnici tydens herstelwerk kan wees, ” aldus rdl.Schoonwinkel.

Hy het gevra dat die munisipaliteit daaroor kriminele klagtes kragtens nywerheidswetgewing lê, indien dit nie reeds gedoen is nie.

Hy sê raadslede was geskok oor ‘n senior tegnikus se klagte dat voorgeskewe diensinspeksies en instandhouding glo na bewering nie op munisipale tranformeerders gedoen word nie.  “Dan oorverhit hulle, en kan selfs ontplof, soos onlangs tweemaal gebeur het, “ sê rdl. Schoonwinkel.

Toe verdere tegniese en finansiële leemtes uitgewys is, is voorgestel dat dit so gou moontlik ontleed word op ‘n gesamentlike vergadering van twee van die Raad se staande komitees – die komitee oor Finansies en die een oor Infrastruktuur. Die voorstel is eenparig aanvaar. Die gesamentlike vergadering sal fokus op elektrisiteits- sowel as waterprobleme,  met die klem op onmiddellike verbeterings.

Die vergadering moet vanmiddag, Dinsdag 21 November, plaasvind.

Die elektriese kabel wat sedert Maandagaand oor die pad lê by die kruising van Unie- en Bredelstraat. Foto’s: Karien Viljoen, Save Ngwathe

* In Heilbron, nog een van die Ngwathe dorpe, is ook net een voertuig vir die elektriese afdeling beskikbaar en dié is tans onklaar.

Related Articles

Back to top button