Local newsNews

Ngwathe oor onwettige kragverbindings verkla

Hoewel Nersa ’n persoon aangewys het om hierdie kwessie uit te klaar, sê AfriForum dat daar steeds niks van gekom nie

Die AfriForum-tak in Parys het ’n klag by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) ingedien oor beweerde onwettige en lewensgevaarlike kragverbindings in dié dorp. Dié klag volg op ’n skrywe wat die tak in Augustus aan Nersa gerig het omdat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit volgens hom versuim om iets te doen aan die onwettige verbindings – wat in sommige gevalle deur munisipale amptenare gedoen is. sê AfriForum in sy verklaring.

Hoewel Nersa ’n persoon aangewys het om hierdie kwessie uit te klaar, sê AfriForum dat daar steeds niks van gekom nie, Die burgerregte organisasie sê ook onwettige kragverbindings neem oënskynlik toe.

Die organisasie het beklemtoon dat sou die onwettige verbindings lei tot sterftes of ernstige beserings, die munisipaliteit en Nersa aanspreeklik gehou sal word. Een van die plekke waar ’n kabel vir ’n onwettige verbinding oor die grond loop naby ’n skool is al verskeie kere aangemeld sonder sukses. “Dit is kommerwekkend dat Nersa nie hierdie probleem ernstig genoeg beskou om op te tree nie. Dit is duidelik dat die inwoners van Parys en hul stryd om water en krag glad nie vir enige staatsdepartement van belang is nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Volgens Petrus Coetzee, AfriForum se raadgewer vir plaaslike regeringsake, is dit Nersa se wetlike plig as energiereguleerder om te verseker dat elektrisiteitsverspreiders, soos munisipaliteite, aan lisensievoorwaardes voldoen en wetlik optree. “Hierdie agterlosigheid aan die munisipaliteit se kant stel die gemeenskap onnodig in gevaar. Dit is onverantwoordelik van Nersa om nie in te gryp nie.”

Related Articles

Back to top button