Local newsNews

Eerste uitstalling van bekroonde fotojoernalis se werk 13 jaar na sy dood

“Sy swaard was sy kamera"

 

 Op die vooraand van die 13de herdenking van sy afsterwe is Paul Alberts se foto’s vir die eerste keer uitgestal.

 

Paul Alberts is bekend as die fotograaf wat stories kon vertel sonder om een woord te gebruik. In dié aangrypende uitstalling is foto’s van bekendes, maar ook korrespondensie wat hy met hulle gehad het, tot einde Januarie 2024 te siene in die Voortrekkermonument se Pioniersentrum.

 

Alberts se vrou, Charmaine, het in Oktober 2022 ’n fotoversameling van haar man aan die Erfenisstigting geskenk en tesame met die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Voortrekkermonument, ’n jaar later, het die uitstalling uiteindelik die lig gesien.

 

Tydens die opening van die uitstalling is ’n beeld van Alberts onthul. Hierdie beeld is volgens almal wat Alberts geken het, ’n ware refleksie van die “die man agter die kamera” en is deur Jaco van Niekerk gemaak.

 

Charles Smith, nuusredakteur by Netwerk24, was ook ’n spreker tydens die geleentheid en was goeie vriende met Alberts.

 

“Bloot die feit dat ’n dekade na sy dood en omtrent ’n halfeeu na baie van hierdie foto’s geneem is en dit steeds so groot invloed het om uitgestal te word, wys watter besonderse mens hy was. Maar dit is soveel meer as bloot dit. Ek dink as mens het hy die grootste impak gehad,” sê Smith.

 

“Dit gebeur min dat iemand op ’n Maandagoggend in jou kantoor instap en jou hele lewe en lewensuitkyk verander. Dit het met my gebeur in 2009 een dol Maandagoggend toe Paul in my kantoor instap met sy leer sandale – ek het hom nooit in ander skoene gesien nie – en hy het diep spore in my lewe getrap.”

Só sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK en Voortrekkermonument.

 

“Wat ek van Paul sal onthou, is sy ongelooflike nederigheid. Paul het nie gepraat oor homself nie. Hy was die man agter die kamera,” gaan Langner voort.

 

Alberts het Langner genader om ’n boek te publiseer oor wit armoede.

“Sy swaard was sy kamera. Hy het sy foto’s gebruik om sosiale kritiek te lewer. Hy het sy kamera gebruik om kritiek te lewer teen onreg wat hy raakgesien het in daai tyd en dit is wit armoede.

 

“Dít is wat Paul gedoen het. Hy het gestaan vir ’n saak en geveg vir ’n saak en hy was ’n man met ’n standpunt,” sê Langner.

 

Die geleentheid is bygewoon deur die Alberts-gesin en sy drie seuns en vrou het die borsbeeld onthul.

 

Adriaan Alberts, seun van Paul Alberts, het die uitstalling as uitsonderlik bestempel.

 

“Soveel jare se werk is in die uitstalling ingesit. Oornag sukses vat 20 jaar om te maak. Hierdie uitstalling het 13 jaar gevat om te maak.”

 

Marcus Alberts, ook ’n seun van Paul Alberts, vertel dat hy sy pa op ’n redelike jong ouderdom verloor het.

“Ek waardeer nou die groot legende wat hy was.”

Marcus, Dewald, Charmaine en Adriaan Alberts. 

Brümilda van Rensburg het ’n voordrag gelewer soos net sy kan van die briewe wat Alberts van bekendes soos onder meer Adam Small, Marius Beyers, Anna Neethling-Pohl, André P Brink, Ernst van Heerden, Antjie Krog en Karel Schoeman ontvang het.

 

“Dit sal ek altyd van hom onthou – die baardjie en die brilletjie,” sê Van Rensburg in bewondering van die beeld.

 

Alberts is ’n rolmodel en inspirasie vir talle wat hom bewonder het.

Die Alberts-gesin onthul die beeld van Paul Alberts. 

Gerhard Pretorius, kommunikasiebeampte van die FAK en Voortrekkermonument, was die seremoniemeester vir die spesiale geleentheid en is ook ’n voormalige joernalis en uiters bekwame fotograaf.

 

“Ek het nie vir Paul geken nie, maar deur sy foto’s en werk voel ek dat ek hom geken het; sy siel geken het.”

 

Die FAK en Voortrekkermonument nooi die publiek uit om die uitstalling te besigtig en meer van Alberts, maar ook van die modelle wat hy vasgevang het, te sien.

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button