Local newsNews

Dié parkie was sy trots

Parys en sy mense salueer jou Dolf vir wat jy vir die kinders van Parys gedoen het.

Van sy huis naby die Saligna-parkie kon Dolf Lategan die kinders sien baljaar in die parkie. Vrolike kinderlaggies wat ure se harde werk om die parkie oor jare te vestig, in oormaat beloon het. Vir Dolf het sy betrokkenheid by die parkie vyftien jaar gelede as ‘n uitdaging begin. Oor jare het dit meer as dit geword, ‘n Liefdestaak wat hy met die geldelike ondersteuning van inwoners in die omgewing van die parkie, op sy skouers geneem het om die parkie te bestuur en te onderhou met die toewyding en presisie van ‘n man wat môre kon raaksien in wat hy hier gedoen het.

Van die uitleg van die parkie se tuin, tot die klim- en klouterapparate waaroor hy deeglik navorsing gedoen het. Hy het selfs idees uit Switzerland bymekaar gemaak om seker te maak dat die klouterapparaat wat hy gebou het, sou bydra tot groot en fyn motoriese ontwikkeling.
“Weet jy hoe lekker het die kinders hier bal geskop,” vertel hy, en wys na die rugbypale. Hy gesels oor die Telkom-pale, gekoop vir ‘n skamele R50 stuk wat die ligte in die parkie geword het.  Nog ‘n Telkom-paal wat omskep is in ‘n unieke swaai- en hang apparaat.

Dolf Lategan saam met Paul, Braam en Ras van MooiParys by die hang- en swaai-apparaat wat hy gebou het. 

Die wipplanke is gebalanseer. Gereeld het hy en sy regterhand, Johannes die apparate gaan ghries. In die sandput staan ‘n skommelperdjie – spesiaal ontwerp vir ‘n tweeling, sê hy. Jy hoor die trots as hy vertel van die balanseerbalk, en perdjies gebou uit die vere van ‘n 40 ton vragmotor.

Dolf Lategan by die skommelperdjie in die Saligna-parkie wat spesiaal ontwerp is vir ‘n tweeling.

Elke apparaat gemerk met ‘n naam en ‘n datum.

Sementbankies, vullisdromme, kennisgewingborde, en 240m se ondergrondse besproeiing wat hy ingesit het om die parkie nat te lei met leiwater wat daardie jare nog gehelp het om die parkie groen te hou. Sy handewerk.

Waar aanvanklik ‘n enkele klimraam en glyplank was met sewe bome, het Dolf oor vyftien jaar sewentig struike en bome geplant. Hy beduie na ‘n boom oortrek met heldergeel blomme. “Kan jy glo hy was net so kniehoogte,” beduie hy, toe dit geplant is.
“Hierdie bande om die sandput waarop die kinders kan loop, leer hul balanseer, weet jy?”

“Die parkie het my van geduld geleer, en van die lewe,” sê die oud-vlugingenieur van die SAL, want naas die vreugde was daar ook hartseer. Mense wat weggedra en verniel het. Selfs van die bome is nie gespaar nie. Leiwater is daar nie meer nie. Net genadewater van Bo wat die gras moet groen hou. Nooit het hy opgegee nie. Nooit ophou planne maak om vernielsug te keer nie, reg te maak, of mooi te maak nie. Dit was vir die dorp se kinders.

Sondag word hy 81, en die tyd het gekom om rustig te raak. Skaal af, het sy kardioloog hom aangeraai toe hy ‘n hartprobleem gekry het – en toe kom Braam van MooiParys oor sy pad,wat voortaan die parkie sal onderhou en bestuur. Met heimwee in sy oë vertel hy dat kinders in die omgewing hom oor die jare oupa begin noem het. “Dit was so lekker om die kinders hier te sien speel. Dis my nalatenskap.” Met die wegstap draai hy terug: “Hier moet jul regmaak,” sê hy, en wys na die rondomtalie.

 

Parys en sy mense salueer jou Dolf vir wat jy vir die kinders van Parys gedoen het.

Related Articles

Back to top button