NewsNews

Van werklose tot suksesvolle entrepreneur

Om jou werk te verloor het ’n geweldige impak op jou lewe. Daarvan kan die 45-jarige Godgrey Mofokeng van Tumahole, soos sovele ander getuig. Maar om dan ’n jaar later die eienaar van ’n suksesvolle sakeonderneming te wees, wil gedoen wees.

Om jou werk te verloor het ’n  geweldige impak op jou lewe. Daarvan kan die 45-jarige Godgrey Mofokeng van Tumahole, soos sovele ander getuig. Maar om dan ’n  jaar later die eienaar van ’n suksesvolle sakeonderneming te wees, wil gedoen wees.
Godfrey is vandag die alleeneienaar van Bonono Craft, ’n  stoffeer onderneming. Sy storie het in 2011 begin toe personeel afleggings gedoen is by die meubelvervaardiger in Johannesburg waar hy as poleerder gewerk het.
Met geen werk en geen inkomste, is Godfrey terug Parys toe. Hy het ’n  vrou en twee kinders gehad om te onderhou, en het dié entrepreneur gou besef dat hy sy vaardighede tot sy voordeel sal moet gebruik. Hy het met poleerwerk aan meubels vir plaaslike inwoners begin, maar die vraag was vir stoffering. Met die geld wat hy met sy aflegging gekry het, het Godfrey toe vir hom ’n industriële naaimasjien gekoop maar die probleem was dat hy nie kon naaldwerk doen nie.
Een van sy bure het hom vertel van die gratis naaldwerkklasse wat weekliks by Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) se kantore in Buitenstraat aangebied word as werkskepping- en opheffingsprojek. Net daar het Godfrey gaan aanmeld al was hy in 2011 die eerste en enigste man in die naaldwerkklas.
En in 2012 kon Godfrey al so goed naaldwerk doen danksy sy bekwame en geduldige leermeester, Marietjie Smit, ’n  vrywilliger by VVA, dat hy stoffeerwerk kon doen.
Die bestellings het ingestroom en Godfrey se onderneming was aan die gang by sy huis in Mosalastraat 1415. Vandag het hy reeds drie naaimasjiene en het hy tot 2014 nog getrou klas bygewoon. Maar nou het die werk té veel geword omdat hy alles self doen – van die poleerwerk van die houtmeubels tot die stoffeerwerk. Hy maak selfs los kussings vir sy kliënte – nog ’n  vaardigheid wat die dames van die VVA hom geleer het. Met ’n  Facebook blad vir sy onderneming span hy ook sosiale media in om sy werk te adverteer.
Marietjie vertel dat die klasse by VVA oop is vir enigeen elke Woensdag van 08:00 tot 12:00. Die publiek skenk materiaal en gare en die klaargemaakte items van voorskote, handige handgemaakte sakkies, handsakke en kleurvolle komberse, tot kussings kan hier deur die publiek op Woensdae gekoop word.

Related Articles

Back to top button