News

Taverne-aansoek se doppie geklink

Duisende handtekeninge op petisielyste, en nagenoeg 20 besware wat ingedien is van onder meer skole, kerke en besighede wat direk deur die verskuiwing geraak sou word, was van die deurslaggewende faktore in die Raad se beslissing

Die Vrystaatse Dobbel- en Drankraad het op 18 Oktober Wintics Trading CC se aansoek afgekeur vir die verskuiwing van die taverne se drankregistrasie vir die Big Daddy Tavern. Met die aansoek is gevra vir die verskuiwing van die perseel oorkant die taxi-staanplek in Kruisstraat 32 (Father Balinkstraat), na Kruisstraat 29 (Father Balinkstraat). Laasgenoemde perseel is vroeër gedeeltelik as mediese sentrum en kantore gebruik.

Duisende handtekeninge op petisielyste, en nagenoeg 20 besware wat ingedien is van onder meer skole, kerke en besighede wat direk deur die verskuiwing geraak sou word, was van die deurslaggewende faktore in die Raad se beslissing, het mnr. Lou van Wyk, wat namens die beswaarmakers opgetree het, bevestig.

Dié gebou waaroor die herrie gegaan het is in die toerisme wandellaan en ontwikkelingskorridor van Parys aangrensend tot die dorp se hoofstraat wat die toerisme-hartklop van die dorp is. Boonop is dit reg oorkant die dorp se Baptiste Kerk, die agterkant van die gebou regoor die NG Moedergemeente kerkgebou, en net enkele meters weg van nóg sewe ander kerke en verskeie skole.
In die Vrystaatse Dobbel- en Drankwet van 2010 word pertinent deur die Drankraad uitgewys dat drankregistrasies nie binne 500 m bedryf mag word van ‘n plek van aanbidding, of opvoedkundige instelling nie.

Nog ‘n sleutelaspek in die beswaar teen die aansoek was die Dorpsaanlegskema van 1965 wat bepaal dat die spesifieke eiendom waarvoor aansoek gedoen is, gesoneer is vir ‘spesiale besigheid’. Dit sluit in winkels, besighede, residensiële geboue en woonhuise.
Daar kan wel aansoek gedoen word by die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit vir spesiale toestemming vir besigheidsregte vir die bedryf van ‘n plek van vermaak, ‘n saal, ‘n plek van onderrig of spesiale gebou. Dié spesiale toestemming kan egter net ingevolge die SPLUMA wet van 2013 toegestaan word as geïnteresseerde en geaffekteerde partye direk aangrensend tot die eiendom, ook geken is deur ‘n proses van openbare deelname om hul goedkeuring of besware te gee. ‘n Proses wat nie gevolg is nie.

Die kennisgewing vir aansoek vir die verskuiwing van die drankregistrasie is op 4 Maart 2022 in die provinsiale staatskoerant gepubliseer, maar in die kennisgewing is geen melding gemaak van die kerke of opvoedkundige instellings binne die 500 m afstand wat uitgewys word in die wet nie.

Ná die publikasie van die kennisgewing vir die aansoek was daar tyd tot 28 Maart 2022 om besware in te dien, en is verskeie eedsverklarings van sakelui sowel as die kerke wat geraak word, en die Joyous Kids dagsorgsentrum saam met 4 000 handtekeninge op ‘n aanlynpetisie, aan die SAPD oorhandig.

Die SAPD moes ‘n verslag oor die aansoek indien wat deur die Drankraad in aanmerking geneem is. Die eedsverklarings van predikante en hul verteenwoordigers, sakelui, skole en alle ander geaffekteerdes is ook ingesluit in die verslag aan die Drankraad.
Van die grootste besware van die publiek met wie Gazette vroeër gepraat het oor die aansoek, was juis die gebrek aan publieke deelname voor die indien van die aansoek, en dat dit nie plaaslik geadverteer is nie, afgesien van die invloed wat dit op gevestigde sakebedrywighede in die gebied sal hê wat nie bestaanbaar sal wees sou die aansoek goedgekeur word nie. Die besighede wat hier gevestig is sluit in prokureurs, makelaars, ‘n begrafnisonderneming en banke.

Die vrees was dat goedkeuring van die aansoek sou bydra tot ‘n toename in sosiale kwessies soos armoede en drank- en dwelmmisbruik in dié deel van die dorp.

Die vrese het geblyk nie ongegrond te wees nie met die gebou se eienaar waar die taverne vantevore was, wat te kenne gegee het dat die huurkontrak vir die taverne nie hernu sal word nie omdat die taverne degraderend was vir die omgewing waar dit bedryf is, en ‘n gesondheidsrisiko geskep het.

Dit is beaam deur ander sakelui in Father Balinkstraat wat gesê het dat die taverne ‘n negatiewe impak op hul besighede gehad het, bygedra het tot rommelstrooiing, sosiale kwessies, sekuriteitsprobleme en die steurnis van harde musiek. Volgens mnr. Lou van Wyk, was daar ‘n lang lys van klagtes teen die applikant by die perseel waar die taverne voorheen bedryf is. Hoewel daar ander ondernemings met soortgelyke drankregistrasies in die dorp se hoofstraat is, was die mening dat dié ondernemings bestaanbaar is omdat dit restaurante is wie se kliëntebasis families is, en/of drank nie op die perseel verbruik word nie.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button