Misdadigers begin vroeg met ‘Kerskopies’: Die polisie het nou jou oë en ore nodig
Gesamentlike patrollie beplan
Misdaad raak nie net jou buurman, of die besigheid of woning wat deurloop met diefstal of inbrake nie. Dit raak ‘n gemeenskap, en daarom ook elke inwoner. Jy kan maar weet – kom Desember dan styg misdaad.
In Parys is dit veral huisbrake en diefstal wat ‘n groot kopseer is vir die polisie. Daarom is elke Parysenaar se hulp nodig om die polisie se oë en ore te wees – veral nou.
Een van die mees effektiewe maniere hoe ‘n gemeenskap die polisie se hand kan sterk is met buurtwagpatrollies. In Parys is groot sukses met buurtwagpatrollies in die verlede behaal.
Daarom wil die polisie saam met die gemeenskap ‘n gesamentlik patrollie ry die aand van Vrydag 3 November tussen 18:00 en 21:00. Net drie ure van jou tyd om werklik ‘n verskil te maak, en te sien wat buurtwagpatrollies behels. Terselfdertyd dra dit by tot groter sigbaarheid wat misdadigers hinder in hul bedrywighede.
Al het jy nog nooit vantevore buurtwagpatrollie gery nie, enigeen is welkom.
Daar sal om 18:00 by die parkeerterrein voor Mr Price bymekaar gekom word, waar verduidelik sal word presies wat van jou verwag word.
Hetsy jy reeds deel is van ‘n bestaande organisasie of buurtwagpatrollie – kom neem deel. Jou hulp kan ‘n verskil maak!
Diefstal en huisbrake
Die afgelope ses maande (16 April tot 17 Oktober) was dit steeds huisbrake en diefstal wat die meeste aangemeld is by die Parys-polisiestasie. Dit is meestal selfone, skootrekenaars en televisies wat weggedra word, terwyl sonpanele en kragopwekkers ook gereeld weggedra word.
Daar was vier voertuigdiefstalle met Toyotas wat steeds bo-aan voertuigdiewe se lysie is. Die nuutste tendens wat hier gesien word, is dat motors en motorfietse meestal uit erwe gesteel. word.
Die polisie het ook weer gewaarsku dat mense nie waardevolle items in hul motors sal laat nie.
Wees ook op jou hoede vir mense wat jou in ‘n winkel, sentrum of op straat ‘per ongeluk’ sou stamp of jou aandag probeer aftrek. As jy weer sien is jou selfoon of beursie skoonveld. Moet nie toelaat dat jou aandag op enige manier afgetrek word nie. Dra so min moontlik in jou hande of handsak, en wees bewus van wat om jou aangaan.
Moet ook nie jou vullissakke vroeër uitsit as wat nodig is nie. Heelwat meer ‘sakgrawers’ word ook deesdae in die strate van Parys gesien, en terwyl daar rondgedwaal word om in sakke te grawe, word daar rondgekyk. Hou jou sakke so lank moontlik in jou erf en sit dit net uit wanneer nodig vir vullisverwydering. Die Rooidam-area het al gewys hoe groot verskil gemaak kan word aan beweging in die strate wanneer vullissakke nie vir lang tye op sypaadjies lê nie.


