News

Parys se singende dokters: “Daar’s ‘n lied in ons harte”

Dit is hierdie spontane lied in hul harte wat jy gereeld in hul spreekkamers hoor wanneer jy in die praktyk kom van dié twee vennote wat die hartspassie van musiek deel.

Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. ‘n Vreugde wat borrel uit die harte van Parys se dokters Gerrit Gouws en Walter Bell.
“Ek sing want daar’s ‘n lied in my hart. Ek is gelukkig. Ek sing heel dag. As ek my kan kry kom dit by my mond uit,” gesels Gerrit. En dit is hierdie spontane lied in hul harte wat jy gereeld in hul spreekkamers hoor wanneer jy in die praktyk kom van dié twee vennote wat die hartspassie van musiek deel.

Albei neem sanglesse by tenoor Stefan Louw, en tree op Vrydag 3 November op by die gala-konsert van die Stefan Louw sangskool waar die beste van die Bond tema-liedere in ‘n uitsonderlike program gehoor sal word.

Vir albei dokters kom hul liefde vir musiek uit hul ouerhuise, en is musiek steeds ‘n groot deel van hul lewens.

Walter vertel van die voorreg wat hy gehad het om groot te word in ‘n gesin waar daar altyd saam musiek gemaak is. Sy oupa, ook ‘n mediese dokter, kon klavier, trompet, kitaar, saksofoon en blokfluit speel. Hyself speel klavier en dwarsfluit – al is daar deesdae min tyd daarvoor, sê hy.

“Ons is ses kinders waarvan ons jongste drie ‘n drieling is. My ma was uitstekend op die klavier en trekklavier, en my pa kon mooi sing.” Hy gesels oor die mooi herinneringe hoe hulle as gesin by kerke, ouetehuise, familiesaamtrekke en kampe gesing het. “Op elke troue van ‘n Bell-kind of kleinkind is daar gunstelingmusiek wat gesing word.” Veral op universiteit het die vyf broers saamgesing, en was hy deel van die Stellenbosch universiteitskoor.

Hy’t nog nooit aan kompetisies deelgeneem of solo-uitvoerings gedoen nie, maar in die praktyk waar hy sy passie as dokter leef, is musiek die medisyne vir sy siel. Dit is hier in Parys waar hy opnuut sy belangstelling in sang ontdek het.

Hy sing vir die Deo Gloria koor, en vra jy oor die sanglesse, sê hy dat dit ‘n voorreg is om by Stefan te leer. “Sanglesse het sy eie uitdagings – dit is akademies, emosioneel en tegnies baie stimulerend.”

Ook vir Gerrit is daar mooi herinneringe aan sy pa wat altyd musiek gemaak het. As kind onthou hy hoe hy graag gedans het, en sommer so op sy kouse oor die saalvloer sou gly as daar by funksies musiek gemaak is. Hy luister graag na klassieke en opera musiek, maar vir hom is musiek – enige musiek, die taal wat die hart verstaan.

Hy vertel hoe hy en sy vyfjarige dogtertjie MeA saamsing, En van sy oudste, Ané, wat met haar fyn musikale aanvoeling die viool-afdeling vir graad 4 in vanjaar se Conspirito nasionale kunswedsryd gewen het, en met klavier deurgeding het na die Grand Finale van Kids with Talent.

Ek luister na die suiwer klanke van pa en dogter wat saam Pie e Jesu sing, en saam met die lied hoor jy saamwees, saam geniet en gelukkig wees.

“Toe ek sien hoe musikaal my dogters is, het ek besef ek mis uit op iets,” gesels Gerrit, en so het dit gekom dat hy amper ‘n jaar gelede met sanglesse by Stefan begin het. “Ek wou graag leer sing om dit beter te kan doen vir mense,” sê hy. “Musiek was altyd soos ‘n ‘jangle’ in my kop, maar dit moet struktuur kry. En ek hou ook van ‘n bietjie dissipline in musiek. It honours the music a little bit,” sê hy.

“Dit is ‘n gelukkige praktyk. Ons het gekies om dit meer soos huis te hê,” sê hulle. Dit is waarom jy hulle hoor sing. Waar en wanneer hulle kan, want in dié dokters se harte is ‘n lied. ‘n Vreugdeslied – want wat die hart van vol is, loop die mond van oor.

Related Articles

Back to top button