Jong mense op Bult se strate word geteiken
Die grootste konsentrasie van selfoondiefstal en rowe vind in Steve Bikostraat plaas met ander gevalle wat dan uitsprei na Meyerstraat en ander omliggende strate op die Bult.
Selfoondiefstal en rowe is twee toenemende vorme van misdaad op die Bult n Potchefstroom waar studente en jong mense veral op straat geteiken word.
Volgens Johan Naude, bestuurder van die Cachet Park CID, is daar statistiese bewyse van gerapporteerde voorvalle rakende hierdie tipes misdade vanjaar.
“Al is selfoondiestal en rooftogte nie die hoogste aantal insidente nie (ongelukke is die hoogste in 2023), kan daar gesien word dat daar oor die algemeen meer fone en elektroniese toestelle soos skootrekenaars gesteel word,” vertel Naude.
In September vanjaar is daar 76 insidente gerapporteer, 16 daarvan was roof op straat. In September 2022 was daar maar 24 insidente in geheel.
Naude glo dat daar verskeie redes hiervoor is. Eerstens is daar meer studente op die Bult as voorheen toe die Cachet Park CID gestig is.
Tweedens, het baie studente nie vervoer nie en moet baie keer te voet met hulle elektroniese besittings beweeg. Sodoende word hul makliker slagoffers van misdaad.



