News

Huisbrake bly ‘n groot kopseer

Huisbrake en diefstal in Parys bly 'n groot kopseer vir die polisie in Parys, maar dit is veral die diefstal van kaarte by OTM's wat geweldig toeneem.

Tydens die maandelikse Gemeenskap Polisiëring Forum is weer gewaarsku dat mense onder geen omstandighede hulp van vreemdes by ‘n kitsbank moet aanvaar nie. Selfs nie eens van ‘n sekuriteitswag nie. Jy kan maar weet as jy hulp van iemand by ‘n kitsbank aanvaar het, is die kanse baie goed dat die bank jou nie gaan vergoed vir die skade wat jy gelei het nie. Moet nooit jou pinnommer of jou bankkaart vir iemand anders gee nie.

Wat dikwels gesien word is dat ‘n kitsbank se kaartgleuf verstop word deur die kaartdiewe. So lei hulle hul slagoffers na ‘n ander kitsbank in dieselfde omgewing waar waarskynlik geen sekuriteitskameras is nie.

Trek liewer geld by ‘n kassier in ‘n supermark. As jy wel van ‘n OTM gebruik maak, maak ook seker dat die kaart wat jy uit die masjien haal na jou transaksie, wel jou kaart is. Vermy die OTM saans en na-ure wanneer beligting swak is en geen sekuriteit aan diens is nie. Diefstal by besighede die afgelope maand was meestal in Breëstraat.

Diefstal uit motorvoertuie word ook gereeld in die dorp gerapporteer en moet jy daarom seker maak jy los nie jou waardevolle items soos skootrekenaars, sleutels, beursies, duur sonbrille en selfone in jou motor nie. Daar is onlangs ‘n Fortuner op die h/v Schilbach- en Philipstraat gesteel, en staan die voertuigdiefstalsyfer vir Parys vir die jaar reeds op 12 voetuie. Dit is meestal Fortuners en Hilux bakkies wat gesteel word.

Die nuutste modus operandi is egter motors en motorfietse wat uit motorhuise gesteel word. Koperdiefstal het wel die afgelope maand afgeneem. Onthou dat jy diefstal hoe gering ook al, moet aanmeld. Dit help om misdaadtendense te bepaal sodat die polisie patrollies in gebiede wat probleemareas is, kan verskerp.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button