News

Munisipale grense onder die loep

Finale afbakening vir die 2026 munisipale verkiesing word beplan om iewers tussen September 2024 en Oktober 2025 aangekondig te word.

Die Munisipale Afbakeningsraad is tans bedrywig met die hersamestelling van munisipale grense. Voorstelle deur belanghebbendes vir veranderinge aan grense was in Maart vanjaar deur die Afbakeningsraad aangevra.

Kommentaar op die voorstelle moes binne 30 dae na publikasie daarvan ingedien word. Ngwathe Munisipale Raad het op 31 Maart vanjaar verskeie van die voorstelle oorweeg en besluit om by die Afbakeningsraad aan te beveel dat ‘n aantal moontlikhede ondersoek moet word. Hulle is die totstandkoming van nuwe plaaslike munisipaliteite bestaande eerstens uit Edenville, Kroonstad, Viljoenskroon en Parys, tweedens uit Sasolburg, Deneysville, Oranjeville en Heilbron, derdens uit Viljoenskroon, Vredefort en Parys en vierdens uit Kroonstad, Edenville, Koppies en Parys.

Daar was egter ook voorgestel dat dit steeds ‘n alternatief bly om die bestaande samevoeging van Parys, Vredefort, Koppies, Edenville en Heilbron as munisipaliteit te behou. Volgens Vryheidsfront Plus raadslid Phillip van der Merwe het sy party nie enige van die voorstelle ondersteun nie omdat hulle beleid is dat mag sover moontlik gedesentraliseer en afgewentel behoort te word en dat elke dorp hom dus self moet bestuur. “My, en my party se, oorwoë mening is dat dorpe, selfs kleiner dorpe, veel beter bestuur was toe elkeen ‘n entiteit op sy eie was” sê hy.

“Tans beskik elke dorp wat deel van die Ngwathe Munisiplateit vorm oor ‘n areabestuurder, maar is senior personeel hoofsaaklik slegs in Parys gesetel en kry ander dorpe baie male nie die aandag wat sulke seniors daaraan behoort te bestee nie” sê raadslid Van der Merwe verder.

Die Afbakeningsraad het vroeër aangedui dat 228 voorstelle vir herafbakening in totaal ontvang was waarvan 217 verwys is vir verdere ondersoek. Daarvan is 23 uit die Vrystaat ontvang. Die Raad het pas die hou van sittings waar mondelinge insette oor die voorstelle aangehoor was afgesluit. Volgens die tydsraamwerk van die Raad word alle insette verkry deur navorsing, openbare vergaderings en ondersoek verhore gedurende Oktober en November 2023 verwerk.

Besluite oor die voorstelle word dan in die Provinsiale Koerante gepubliseer en 30 dae geleentheid vir besware word gegun. Gedurende Desember 2023 en Januarie 2024 word besware oorweeg. Finale afbakening vir die 2026 munisipale verkiesing word beplan om iewers tussen September 2024 en Oktober 2025 aangekondig te word.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button