News

Duur masjien in ‘n oogwink weggedra

'n Soortgelyke masjien is 'n maand gelede by nog 'n werkswinkel in die dorp gesteel.

In ‘n oogwink sonder dat enigeen iets opgemerk het, is ‘n duur diagnostiese masjien van by die R38 000 wat gebruik word vir gespesialiseerde foutopsporing in voertuie, verlede week helder oordag by JM Autolet in Britsstraat gesteel.

Eienaar Jaco Potgieter vertel dat die diefstal Woensdag, 27 September omstreeks 16:00 gebeur het. Daar was heelwat kliënte in die werkswinkel. Terwyl hy buite besig was met ‘n kliënt, en daar personeel in die werkswinkel was, het die grypdief ongesiens die masjien wat in ‘n handsak kan pas, uit ‘n kantoor geneem.

Jaco Potgieter met die tas met net die toebehore van die diagnostiese masjien wat verlede week uit sy werkswinkel gesteel is.

Die diefstal is ‘n haluur later ontdek toe personeel die masjien nodig gehad het vir toetsing. Nodeloos om te sê die dief was toe lankal weg. Op die sekuriteitskameras is ‘n wit BMW met Gauteng-registrasie opgemerk en het die polisie intussen vasgestel dat die registrasienommer vals is.

‘n Soortgelyke masjien is ‘n maand gelede by nog ‘n werkswinkel in die dorp gesteel.

Dit gebeur dikwels dat, met diefstal soos hierdie, een persoon jou besig hou, terwyl sy/haar handlanger blitsig gryp wat waardevol is. Dit word dikwels gereeld met skootrekenaars en selfone gesien wat op ‘n toonbank of lessenaar sou lê.
Dieselfde modus operandi is ook al dikwels gesien met mense wat hulle voordoen as sogenaamde huiskopers. Terwyl die niksvermoedende huiseienaar dan nog huiswys en moet beduie waar die badkamer is vir een met ‘n nood, help sy/haar makker hulle blitsvinnig aan jou kosbaarhede.

Wees gewaarsku – misdadigers is uitgeslape en altyd op die uitkyk vir ‘n maklike teiken. Verlede Donderdag is die Internet Entertainment Lounge in die Koepel-sentrum ook van net meer as R11 000 beroof.

Die rooftog het plaasgevind kort nadat ‘n werknemer oopgesluit het.

Terwyl hy in die kantoor besig was, het hy gehoor dat daar iemand by die veiligheidshek was. Hy het die afstandbeheerskakelaar gedruk om die hek oop te maak, vas onder die indruk dat dit sy kollega was wat aanmeld vir diens.
Twee mans met klapmusse het ingekom en geëis dat die kluis oopgemaak word. Hulle is te voet weg met die geld.
Enigeen wat inligting het wat die polisie in hul ondersoek kan help, kan speur-kaptein Gert Bruwer by 082 466 8094, of ao. Hunter by 082 554 3041 kontak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button