News

Skaakafrigter maak sy skuif vir interprovinsiale toernooi

Vir Danny is dit 'n eerste om die keer as speler, en nie as afrigter by 'n toernooi betrokke te wees.

Skaakspelers wat op ‘n Woensdagaand hul skuiwe op die bord maak vir ‘n aand van sosiale spel saam met ander wat hul passie vir die spel deel, is geen ongewone gesig in Parys nie. Dié dorp spog immers met heelwat passievolle en baie talentvolle spelers wat graag bymekaar leer.

Een van dié spelers is Danny Botes op wie se inisiatief die weeklikse skaakaande in die dorp begin is om spelers die geleentheid te gee om sosiaal teen mekaar te kon speel. Die spelers is nie verbonde aan ‘n klub nie, en speel nie wedstryde nie. Dit is bloot om die spel te geniet, en die geleentheid te skep om teen ander spelers te speel. Die afgelope week was daar 11 spelers wat Woensdagaand hul skuiwe kom maak het.

Vroeër jare is daar weekliks by Pickled Pig gespeel en deesdae elke Woensdag om 18:00 by Zoi Restaurant in Parys se hoofstraat.

Omdat Danny vir baie jare skaak afrig het hy mettertyd al meer kinders betrek en word daar deesdae ook Saterdae van 10:00-14:00 by KFC Furnishers (oorkant Spur in Parys se hoofstraat) gespeel. ‘n Wonderlike geleentheid vir oud en jonk om die spel te leer ken en teen ander te speel, want naas die skaakstelle wat uitgepak is op die tafels, is daar ook ‘n groot vloer skaakstel, waar gespeel kan word.

Vir Danny het ‘n groot eer onlangs te beurt geval toe hy gekies is om aan die interprovinsiale skaakkampioenskappe te gaan deelneem. Dit sal van 13-14 Januarie 2024 by die Tuks-sportsentrum in Pretoria gehou word.

Van o.10 tot senior spelers van Tshwane, Ekurhuleni, Sedibeng, die Wesrand en Johannesburg sal deelneem.
Danny is ingesluit in Sedibeng se 50+ span. Elke span bestaan uit vier lede.

Hyself het vir jare in Sedibeng afgerig en het sy spelers uitgestaan as die streek- en distrikwenners.

Vir Danny is dit ‘n eerste om die keer as speler, en nie as afrigter by ‘n toernooi betrokke te wees.

Hy vertel dat hy op skool leer skaak speel het, en later in die negentigerjare by die Johannesburgse biblioteek gekyk het wanneer spelers daar bymekaargekom het om te speel.

Danny Botes waar hy Saterdag teen Janneman Fourie op die groot skaakstel voor KFC Furnishers gespeel het. ‘n Plek waar jy skaakspelers elke Saterdag sal kry waar hulle mekaar uitdaag vir ‘n skaakwedstryd of twee.
Die kommentaar wat hy op hul skuiwe gemaak het, het die spelers gou laat besef dat Danny die spel ken, en het hulle hom aangemoedig om te begin afrig.

So het dit gekom dat Danny vir jare skaak by skole in Alberton en selfs ook in Vanderbijlpark afgerig het.

Skaak is ‘n spel wat soveel voordele inhou vir kinders, gesels Danny. Volgens kenners kan skaak ‘n betekenisvolle bydrae lewer tot kinders se verstandelike ontwikkeling, verbeter die spel sosiale vaardighede, is ‘n uitstekende aktiwiteit vir skoolvakansies, verbeter konsentrasie en logiese denke, en kan selfs help om aandagafleibaarheid en hiperaktiwiteit te beheer.

Vir Danny om as pensioenaris voorsiening te maak vir die uitgawes wat deelname aan die interprovinsiale toernooi noodwendig meebring, is moeilik en kan enigeen wat Danny kan help met sy reis- en verblyfkoste om sy dorp by die toernooi te gaan verteenwoordig, hom by 071 341 8482 skakel.

Related Articles

Back to top button